Byron Gouws (17) vroeër saam met sy pa, Ashford.


Met net ’n selfoon-liggie het die pa van ’n tienerseun, wat wreed vermoor is, sy vlees en bloed se lewelose liggaam ontdek.

Byron Gouws se lyk is verlede Sondag (31 Julie) in Broadlandspark aangetref (“Twee tienerseuns afgemaai,” DistriksPos & Helderberg Gazette, Woensdag 3 Augustus).

Die tienerslagoffer is na bewering deur twee mans met ’n byl en ’n mes aangeval en sy lyk is op ’n ander plek gestort. Gouws is een van twee tieners wat deur genadelose misdadigers vermoor is. Die ander is Peter Wildschut (19).

Drie verdagtes in die Wildschut-saak is aangekeer en word tot Vrydag 12 Augustus aangehou, wanneer hulle weer in die Strand-landdroshof verskyn.

DistriksPos het vandeesweek daarin geslaag om met Gouws se bedroefde pa, Ashford, oor die tragedie te gesels.

“Byron was my kind. Hy was my hele lewe. Ek weet nie of ek ná sy dood ooit weer dieselfde sal wees nie. Hulle het my van my hele lewe beroof. My kind was nie ’n skollie nie. Ek en hy het ’n ooreenkoms gehad – as hy by ’n bende aansluit, is ons twee klaar. Ek het ook gesê as hy begin tik gebruik, skop ek hom uit die huis. So, ons het ’n goeie verstandhouding gehad,” het die ouer meegedeel. “Dit is tipies kind om stout te wees, maar Byron was nooit die bakleierige soort nie. Hy het nog nooit iemand met ’n voorwerp aangeval nie. Hy het hom wel met sy hande verdedig. Ek dink toe hulle sy arm met die byl gebreek het, het hulle die oorhand oor hom gekry. Hy het tot die laaste om sy lewe geveg.”

Hy het verder vertel hy is steeds geskok oor die manier waarop die aanvallers sy seun se lyk naby ’n stortingsterrein gestort het. “Ek moes sy oë toemaak. Sy mond was oop soos hy heel waarskynlik na my geroep het. Maar, ek kon hom nie hoor nie. Ek kon nie my kind help nie. Ek weet nie of ek oor sy dood sal kan kom nie. Ek het vir daai kind gelewe.”

Die ouer het by vriende gehoor dat Byron aangerand en gesteek is, maar nog lewe. “Ek moes self gaan soek, want die polisie het nie na my kind gaan soek nie. Hulle het my skuins voor 05:00 daardie Sondag kom roep. Ek is met my motor uit. Ek het orals gaan soek. Ons het die polisie nege keer gebel. Hulle het nie eens ’n flits gehad om na my kind te soek nie. Ek het met ’n selfoon se liggie alleen op my kind se liggaam afgekom.”

Adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig Damian Morris (23) en Walter September (26) is in verband met die moord op Byron in hegtenis geneem en sou vandag (10 Augustus) vir ’n formele borgtogaansoek in die Strand-landdroshof verskyn.

Ashford het sy geliefde seun as ’n “ware mensemens” beskryf. “Hier was soveel mense by sy roudiens, wat Donderdag (4 Augustus) gehou is. Jy kon sien hy het ’n groot invloed op baie mense se lewe gehad.”

Volgens Ashford was Byron se toekomsplan om, wanneer hy in Oktober 18 sou word, saam met sy pa te gaan werk. Die tiener, wat van ’n blink toekoms beroof is, word Saterdag (13 Augustus) om 09:00 uit die St. Peter’s Rooms-Katolieke kerk in Gordonsbaaiweg begrawe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article