Die eerste span van die Strand-rugbyklub het Saterdag (6 Augustus) weer sy seisoen op koers gekry toe hy in ’n Westlike Provinsie Superliga C-wedstryd behoorlik met Blue Stars United van Klapmuts op die Gustrouw-sportterrein afgereken het.
Die tuisspan, wat Saterdag 23 Julie in sy eerste slaggat van die seisoen getrap het toe hy 23-12 teen KSUT vasgeval het, het die skitterende vorm wat hy deur die loop van die seisoen ten toon gestel het, weer gevind. Die manne van Liga het ses keer voor ’n ywerige skare agter die doellyn gaan kuier teenoor slegs twee drieë deur Blue Stars en met ’n telling van 34-12 geseëvier.
Die wedstryd is in winderige toestande gespeel, wat natuurlik beide spanne se skoptaktiek beïnvloed het, en die eindtelling kon baie hoër in die guns van Strand gewees het as die tuisspan se stelskopper meer in die kol was. Tog het die sterk wind nie die tuisspan gekeer om drieë te druk nie, en die spelers het seker gemaak hulle hou die telbord aan die gang.
Die flank Eduardo Titus en die linkervleuel, Nathan Lewis, het uitstekende spel gelewer om albei twee keer agter die doellyn te druk, terwyl die buitesenter, Stewart Jacobs, en die kaptein en agtsteman, Riyaad Adams, elk een gedruk het. Die losskakel en stelskopper, Bradley Robertson, het wel vir twee doelskoppe sy skopskoene aangehad om die oorwinning en vyf punte vir Liga te verseker.
Ten spyte van die wedstryd wat Strand verlede maand verloor het, is die plaaslike span steeds bo-aan die Superliga C-punteleer en reeds verseker van ’n plek in die halfeinstryd om dinge vir promosie tot Superliga B uit te spook.VSaterdag (13 Augustus) neem die Liga-manne ’n welverdiende blaaskans.




