Die tweeling Johan en Abrie Botha word 80, maar op verskillende dae.


“Moenie stilsit nie, leef voluit en stel jou eer in jou werk. Wees vir die Here en medemens tot seën.”

Só bemoedig Abrie Botha, een van die tweelingbroers glo bekend as die enigste in Suid-Afrika wie se geboortedatums verskil.

Dié Somerset-Wes-inwoner en sy tweelingbroer, Johan Botha, van Hartenbos, word hierdie maand albei 80, maar met uitsondering op die beginsel dat dié tweeling op dieselfde dag verjaar. Anders as wat verwag sou word, verjaar Johan vandag (Woensdag 7 September) terwyl Abrie vier dae later op Sondag (11 September) die mylpaal vier.

“Die dokter wat die bevalling waargeneem het, het eers vier dae later agtergekom dat daar nog ’n baba is. Niemand het gedink ek kan lewe nie, maar die Here het anders besluit,” sê Abrie.

Die verjaardagvieringe skop vandag af met ’n spesiale ete by ’n familietuiste in Somerset-Wes ter viering van Johan asook Abrie se dogter, Karin, wat saam met haar oom verjaar en 50 word. Sondag word Abrie se verjaardag as gesin saam in Pringlebaai gevier.

Die mylpaal van verjaardae begin met die hartverwarmende verhaal van twee hardwerkende, toegewyde ouers se tweeling, wat in 1942 op ’n boereplaas, Skimmelkrans, in George gebore is.

“Ons was die enigste kinders in ’n baie gelukkige huisgesin,” vertel Abrie. “Ons het ons kinderjare geniet met soete herinneringe van osse inspan, perdekar ry, koeie melk, beeste oppas, patats en groete plant en skoffel.”

Die broers het hul skoolloopbaan by die plaasskool voortgesit en aanbeweeg na Hoërskool Outeniqua, waar al twee in sport, waaronder rugby, krieket en atletiek, uitgeblink het. Ná skool het hulle ’n loopbaan in die onderwys nagestreef en in die Vrystaat verwesenlik. Johan het ’n BCom- en B.Ed-graad verwerf en by Hoërskool Hennenman die klaskamer as onderwyser betree. Hy het groot hoogtes in sy loopbaan bereik en het met sy aanstelling as hoof van die Hoërskool Generaal Hertzog op 29-jarige ouderdom geskiedenis gemaak as die jongste skoolhoof in die Vrystaat. Hy is later tot superintendent (streeksinspekteur van onderwys) bevorder en het uiteindelik verskeie poste, waaronder bemarker by sy alma mater, Hoërskool Outeniqua, beklee.

Abrie het sy BA-graad bekom en aanvanklik by Hoërskool SPS Brandfort skoolgehou voordat hy ná 12 jaar se onderwys sy roeping as dominee nagevolg en vir vyf jaar verder studeer het om predikant te word. Dié leraar het sy MTh- nagraadse teologie-kwalifikasie bekom en by die Onze Rust NG gemeente in Bloemfontein- en later by Suiderstrand-gemeente tot voor sy aftrede in 2008 gedien. Hoewel hy al afgetree is, preek hy steeds byna elke Sondag by hoofsaaklik ouetehuise in die Kom en bied klasse aan vir ’n mans-Bybelstudiegroep. “Alles, alles is genade van die Here alleen,” meen hy.

Op die vraag wat hul resep vir ’n lang uitgespaarde lewe is, antwoord Abrie: “Harde en toegewyde werk en ’n gelukkige gesinslewe.”

Saam het die Botha-tweeling aan hul gesinne gebou. Abrie het in Desember 1966 trou beloof aan sy groot liefde, Maryna, met wie hy vier kinders en 10 kleinkinders deel. Johan is in Maart 1977 met Ista Roux getroud en saam het hulle vier dogters – almal oorsee – en agt kleinkinders. Dié egpaar koester besoeke aan hul kinders in die VSA, Engeland en Australië. Abrie en sy vrou spog met die hoogtepunt dat hulle vir ’n paar weke sendingwerk in Indonesië gedoen het.

Hoewel die broers ’n tweeling is, verskil hulle tog van mekaar. Abrie het in ligte luim meegedeel dat hy uit liefde vir die medemens altyd besig is terwyl Johan ’n natuurlike organiseerder is en altyd die indruk skep dat hy haastig is.

Beide Johan en Abrie is dankbaar vir die voorreg om as tweeling groot te word, want saam het hulle alles geleer en in die lief en leed van die lewe gedeel. Hulle hoop dat die nuwe lewensjaar goeie gesondheid en eindelose gelukkigheid sal bring en dat die Here hulle met sy genade onthou.

“Ons verjaardagwens is dat ons goeie verhouding en liefde vir mekaar nooit sal verflou nie,” het Abrie bygevoeg.

Die tweeling as babas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article