Altesaam 40 mense wat haweloos gelaat is nadat hul wonings in Gustrouw op Donderdag 1 September afgebrand het, word daagliks humanitêre verligting aangebied, maar die kwessie is dat die Stad Kaapstad bevestig het die brandslagoffers nie gehelp gaan word met boumateriaal om hul huise te herbou nie.
Die brand het nie net talle inwoners haweloos gelaat nie, maar ook ’n hond wat op ’n perseel vasgemaak was, geëis (“Man, hond doodgebrand,” Distrikspos & Helderberg Gazette
Tydens Distrikspos & Helderberg Gazette se besoek aan die perseel verlede Dinsdag (6 September) het die inwoners hul kommer uitgespreek, hoewel hulle dankbaar is vir al die hulp tot dusver. Hulle benodig weer ’n dak oor die kop.
“Die Stad gee nie meer ondersteuning nie. Die Wes-Kaapse rampbestuurspan het ons ook laat weet ons gaan nie bystand kry vir die herbouing van ons strukture nie,” sê James de Lange, wat alles in die brand verloor het.
Hy sê al die mense het al by vriende en familie ingetrek.
“Dis ek en my man, en almal se kinders bly by ons. Dis baie moeilik, want daar is nie plek vir almal by ons nie,” voeg Christina Otto by.
James vertel ook dit is belangrik vir die gemeenskap om weer huise van hul eie te hê. “Dit sal ons menswaardigheid herstel – dat ons weer op ons eie voete kan staan en in ons eie huis kan lewe.”
Volgens hom het iemand van die Stad Kaapstad hom ingelig dat daar vermoedelik nie geld is om hulle te help nie.
Sy vermoede is deur Malusi Booi, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, bevestig.
Volgens Booi was die Stad Kaapstad op ’n tyd die enigste metro in die land wat boumateriaal aan mense uitgedeel het om te herbou, al was dit nie die gevolg van ’n ramp nie.
“Toelaebesnoeiings het hierdie program beëindig. So, die Stad Kaapstad doen nou wat hy kan om te help deur die gebiede skoon te maak van rommel ná brande,” sê Booi.
Op ’n verdere navraag aan Booi oor of die Stad die 40 hawelose mense van Gustrouw met boumateriaal sal kan bystaan, het hy geantwoord dat die Stad Kaapstad ongelukkig nie die gesinne sal kan help met boumateriaal om hul wonings te herbou nie.
Sean Stacey, Wyk 100 se raadslid, het al als van komberse tot kos vir die inwoners kom aflewer. Verder ondersteun Sassa ook die inwoners deur hulle drie maaltye per dag aan te bied, en as nog iets kort, spring Friends Serving the Community (Friesco) in met skenkings.
Selfs Gift of the Givers het ook ingespring en die gesinne gehelp met benodigdhede, maar die slagoffers hoop en bid nou dat ’n sakeonderneming of organisasie boumateriaal sal skenk.
“Ons reik nou uit na die gemeenskap en ondernemings om die gesinne met boumateriaal te help,” sê Gavin James van Friesco. “Enige onderneming of organisasie wat met boumateriaal kan help, kan my by 065 241 8622 bel. Ons sal seker maak die boumateriaal word regverdig onder die hawelose gemeenskap verdeel.”




