“Die optrede van ’n paar mense veroorsaak dat die res nou moet swaarkry, want voordat ’n ambulans ons gebied kan inkom, moet dit eers vir polisie-begeleiding wag omdat dit ’n rooisone is – dis ás ’n polisievoertuig beskikbaar is.”

Dít is die woorde van Cheslynn Benn, ’n inwoner van Broadlandspark, nadat ’n man van dieselfde omgewing Sondag 18 September geskiet is en na bewering ’n uur lank op die aankoms van ’n ambulans gewag het (“ ‘Bendelid’ in skietaanval gewond,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 21 September).

’n Rooisone maak sake moeiliker aangesien ’n ambulans in ’n rooisone soos Broadlandspark eers vir die polisie moet wag om dit te begelei voordat dit kan ingaan.

Byron la Hoe van die provinsiale gesondheidsdepartement sê EMS sal ’n gebied as ’n rooisone verklaar as personeel aangeval word en wanneer geweld in die omgewing toeneem.

“Ons erken dit kan ons reaksietye beïnvloed en tot frustrasie lei vir diegene wat vir ’n ambulans wag. Op daardie noot – die veiligheid van ons EMS-personeel bly ons prioriteit. Hulle moet deur die polisie teen misdadigers beskerm word om hulle in staat te stel om ’n noodsaaklike gesondheidsorgdiens te lewer waar dit nodig is,” sê La Hoe.

’n Plaaslike vrou wat op voorwaarde van anonimiteit met DistriksPos & Helderberg Gazette gepraat het, was jare gelede ’n paramedikus en het gereeld in rooisones gewerk. Sy sê die meeste kere plaas die paramedici hul lewe op die spel as hulle sonder polisie-begeleiding in die gevaarlike areas ingaan omdat hulle bloot nie langer kan wag nie en elkeen ’n “fighting chance” wil gee.

“Die meeste kere kon ons nie vir die polisie wag nie en ons moes ingaan. Ons het egter nie altyd onveilig gevoel nie. In die meeste van hierdie gebiede klim ’n gemeenskapslid aan boord en lei ons na die toneel. Die meeste van hierdie rooisone-gemeenskappe grens eintlik aan gevaarlike gemeenskappe waar skietery plaasvind, en dan word hulle ook as rooisones gelys,” vertel sy.

La Hoe verduidelik dat die rooisones gereeld verander en dat dit ’n uitdaging vir paramedici is om vir ’n polisievoertuig te wag om hulle te begelei. “Dit kom neer op die enorme werklading wat die polisie het en die feit dat gewone misdaad altyd voorrang sal kry oor hul ander verantwoordelikhede. ’n Voertuig is ook nie altyd beskikbaar om die paramedici te begelei nie,” sê hy.

Die oud-paramedikus sê die rooisones het ’n groot invloed op paramedici omdat misdadigers en ander kwaaddoeners in gemeenskappe soms bande aan die brand steek om toegang vir die polisie en EMS tot die gebied te keer.

“Die provinsiale gesondheidsdepartement prioritiseer personeel-veiligheid in die organisasie en het maatreëls ingestel om te verseker dat EMS-amptenare veilig gehou word. Verskeie vennote soos buurtwagte en gemeenskapsgroepe werk saam met ons,” sê La Hoe. “Ons doen ’n beroep op die publiek om EMS-amptenare te help beskerm en te ondersteun deur enige van hierdie aanvalle op EMS-personeel onmiddellik by hul naaste polisiekantoor aan te meld.”

Die voormalige paramedikus verduidelik die meeste mense beskou EMS-paramedici as die middelman, maar dat hulle steeds die slagoffers van misdaad word.

“Eenkeer is ons ambulans amper gesteel. Dit is ’n stresvolle werk en partykeer neem die paramedici dalk die verkeerde besluit, wat hul eie veiligheid in die gedrang bring om lewens te red,” sê sy. “Die rooisones het oor die jare verander, maar dit veroorsaak steeds ’n kopseer vir baie paramediese personeel. Ons wil net ingaan en ons gemeenskap dien – dis juis waarom ons paramedici geword het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article