Die woorde “aansoek om borgtog” is iets wat in die Strand in veral moordsake alledaags geword het.

Die kersie op die spreekwoordelike koek is natuurlik dat baie van die verdagtes wel borgtog kry.

Die saak van die drie verdagtes wat weens die wrede moord op Abdullah Daggia (33) in hegtenis geneem is, het ’n nuwe wending geneem nadat al drie weer om borgtog aansoek gedoen het.

Daggia is op Woensdag 18 Mei doodgesteek – vermoedelik vir sy selfoon – en sy dood het talle geskok. Etlike gemeenskapslede het op die wrede toneel op die hoek van Eerste- en Visserstraat in Rusthof saamgedrom en gestaan en kyk toe die polisie Daggia se lyk toegooi.

Die drie verdagtes in die saak – Alister Jantjies, Malcolm Adams en Sadia Hammers, wat al sedert Mei telkemale in die hof verskyn het – se borgtog-verhoor is nou tot Maandag 3 Oktober uitgestel.

Hul eerste hofverskyning was op Vrydag 20 Mei (“Vier vra borgtog ná twee moorde,” Distrikspos, Woensdag 25 Mei). Net ’n week daarna – op Vrydag 27 Mei – het gemeenskapslede na die Strand-landdroshof opgeruk om hul ondersteuning vir die Daggia-familie te wys. Gemeenskapslede het op dié helder sonskyndag buite die hof betoog met plakkate wat gelui het “No bail for killers” en volgens Zorah Motasi, die stigter van die Vroue in Aksie-organisasie, was die gemeenskap se ondersteuning en die feit dat hulle so hoorbaar was een van die redes waarom die verdagtes hul borgtogaansoeke teruggetrek het.

Motasi is van mening dat die redes waarom die drie verdagtes om borgtog aansoek wil doen, is omdat hul families hulle moontlik ingelig het mense in die gemeenskap is nou rustiger en dit is nou veiliger om op borgtog vrygelaat te word.

“Die ander rede is dat die landdros in die saak alles gereed wil kry om die saak na die hooggeregshof oor te plaas – juis weens die publiek se belangstelling in die saak. Die landdros het aan die beskuldigdes genoem indien die saak na die hooggeregshof oorgeplaas word, beteken dit hulle sal ’n jaar of langer moet wag totdat die saak voorkom, en dit beteken hulle sal tot dan in aanhouding moet bly. Dit is volgens my een van die groot redes waarom hulle weer om borgtog aansoek gedoen het,” sê Motasi.

Volgens ’n betroubare bron het net Jantjies en Adams vantevore met die gereg gebots en albei was vir dié oortredings in die tronk. Volgens die bron is Hammers die enigste wat nie ’n vorige veroordeling het nie. Haar verweer is sy moet terug huis toe om vir haar vyf kinders en haar sieklike moeder te sorg.

Abdullah se suster, Aisha, sê die Daggia-familie hoop die verdagtes se borgtog-aansoek word afgekeur, want die familie sien geen sin daarin dat hulle vrygelaat word nie.

Die drie verdagtes word aangehou totdat die saak Maandag (3 Oktober) weer voor die hof sal dien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article