Die Stad Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, onder leiding van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en verskeie buurtwagte, het verlede week aan ’n voetpatrollie deur al die probleemgebiede in sektore een en twee in Strand deelgeneem.
Nie net het die GPF en die burgemeester verlede Dinsdag (27 September) aan die voetpatrollie deelgeneem nie, maar JP Smith, die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit in die Kaapstad-metroraad, sowel as Reagan Allen, die LUR vir polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, John Steenhuisen, die leier van die DA, en verskeie buurtwagte se verteenwoordigers het saamgestap.
Volgens Niklaas Thysen, woordvoerder van die Strand GPF, het die voetpatrollie al die woongebiede in Rusthof, Broadlandspark, Sercorpark en Erijaville gedek. “Ons het gefokus op die gebiede waar gewelddadige misdaad soos rooftogte, skietvoorvalle en huisroof vir ons en die gemeenskap ’n groot bekommernis is,” sê Thysen.
Hy sê verder die GPF en die verskeie buurtwagte is baie bekommerd oor die bendegeweld-voorvalle wat al hoe meer in gebiede soos Rusthof, Erijaville, Broadlandspark en Sercorpark voorkom.
Hill-Lewis sê dit was vir hom as burgemeester ’n groot voorreg om die onderskeie buurtwagte en lede van die Strand-GPF op die voetpatrollie te vergesel. “Die GPF en buurtwagte vervul ’n baie belangrike rol om ons gemeenskappe ’n veiliger plek te maak. Ek is so dankbaar om te sien ons het sulke betrokke inwoners in die Stad Kaapstad,” sê Hill-Lewis.
Die patrolleerders het nie net op misdaad gefokus nie, maar ook op gebiede waar onwettige vullisstorting gereeld plaasvind.
Chantel Cerfontein, die wyk 85-raadslid, sê dit was goed om te sien dat die burgemeester en ander rolspelers in plaaslike gemeenskappe belangstel en in die feit dat die soort misdaad wat eens op ’n tyd net in die Kaapse Vlaktes gebeur het, nou in plaaslike gemeenskappe voorkom.
“Ons plaaslike buurtwaglede, wat almal uit die onderskeie gemeenskappe kom, is besig om ons strate terug te neem. Deesdae is inbrake by woonhuise, dwelmhandel, bendegevegte en onwettige vullisstorting aan die toeneem. Ek is bly die leierskap kon eerstehands kom kyk wat die probleme in die gebied is. Ek wil hierdie geleentheid gebruik om die buurtwaglede te bedank vir al hul harde werk en die passie wat hulle het om ons gemeenskappe te beveilig.”
Apostel Manfred Jumat, die voorsitter van die Broadlandspark-buurtwag, sê ’n mens vergeet maklik van die harde werk wat die verskeie buurtwagte se lede doen.
“Hulle doen harde werk agter die skerms. Dit word gedoen om ons gemeenskappe se veiligheid op die voorgrond te plaas. Soms bevraagteken mense die impak van ons plaaslike buurtwagte, maar hulle besef nie dis ’n vrywillige, onbetaalde diens wat deur mense wat besorgd is oor die veiligheid van hul eie gemeenskap, gedoen word nie. In plaas daarvan om te kritiseer en te blameer, het hierdie mense besluit om iets daadwerkliks te doen – iets wat binne hulle vermoë is,” sê Jumat.
Volgens Thysen het die GPF ook ’n bespreking met Smith en Allen gehad oor die belangrike aspek dat bykomende hulpbronne aan die bendebrandpunte in sektors een en twee beskikbaar gestel moet word.
Hill-Lewis het ook bevestig dat die Direktoraat van Veiligheid en Sekuriteit ’n jaarlikse begroting van R1,5 miljoen beskikbaar gestel vir die 2022- en ’23-boekjare vir toerusting vir patrolliewerk en misdaadbestryding vir die onderskeie geakkrediteerde buurtwagte wat onder die Stad Kaapstad val, en gelukkig val Strand se buurtwagte ook onder die buurtwagte wat ’n gedeelte van die begroting gaan ontvang. Die geld is geoormerk vir toerusting wat die buurtwagte sal help om misdaad te bekamp.



