“Ouers, moenie te oorbeskermend wees nie en praat met jul kinders oor die dinge van die lewe – veral oor onderwerpe wat dikwels as taboe beskou word. Kinders, indien julle voel dat julle nie met jul ouers kan gesels nie, noem dit wat julle kwel aan ’n ander volwassene wat julle in jul vertroue kan neem.”
Só bemoedig ’n plaaslike pa wat sy tienerseun die aand voor die eerste skooldag van dié kwartaal aan die dood moes afstaan. Die lewelose liggaam van die 13-jarige Lermo Smith is Maandagaand (10 Oktober) in sy gemeenskap aangetref. Geen misdaad word vermoed nie.
Die buitetoilet, waar hy slegs ’n klipgooi van sy tuiste gevind is, is weens die tragedie glo deur gemeenskapslede afgebreek. “Ons is diep seer, maar probeer om die verlies te verwerk en koester die mooi herinneringe en sy nalatenskap,” het die 49-jarige ouer, Michael Smith, gesê.
Hy sê hy het sy kind laas lewend gesien toe hy Maandag ná werk by die huis aangekom het. Lermo se liggaam is glo ’n uur nadat hy omstreeks 19:00 uit die huis is deur gemeenskapslede, onder wie kinders, gevind. “Sy liggaam is met die hulp van gemeenskapslede herwin. Hy is huis toe gebring waar alle pogings om hom by te bring misluk het.”
Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste, sê personeel is omstreeks 20:15 met ’n reddingsvoertuig van die Strand-brandweerstasie ontplooi. “Met hul aankoms was die minderjarige reeds dood. Nadat hy dood verklaar is, is die toneel aan die polisie oorhandig,” het Carelse gesê.
Die polisie het bevestig dat ’n geregtelike doodsondersoek geopen is.
Keith Meyer, die waarnemende skoolhoof by Dr. G.J. Joubert Primêre Skool, sê personeellede en leerders is geskok deur die verlies van ’n opgewekte, liefdevolle seun. Meyer sê berading deur die provinsiale onderwysdepartement asook die Strand-tak van Badisa is gereël.
Smith deel voorts dat hulle nooit sigbare tekens van depressie by Lermo raakgesien het nie en hulle is ook nie bewus van enige druk wat moontlik sy gemoed beïnvloed het nie. Vir die wêreld was Lermo ’n prentjie van vriendelikheid. “Hy was lief vir dans, grappies deel en ’n regte terggees,” het Smith gesê.
Hy voer aan dat hy altyd sy hulp kon inspan deur slegs sy naam uit te roep: “As ek skree ‘Lermo!’, dan volg, ‘Ja, dêddie’. En as ek vra, ‘Kan jy gou vir dêddie…’, was dit gedaan,” deel die pa met trots oor die gehoorsame en respekvolle kind wat hy grootgemaak het.
Maar, Smith het ná sy verlies op ’n nota in een van sy skoolboeke afgekom waarin Lermo verduidelik sy gunstelingkleur is swart en waarom hy van die donkerte hou.
Lermo word oorleef deur sy pa (49), ma (48) en sewe sibbe (25, 22, 19, 18, 15, 11 en 10). Hy word Saterdag (22 Oktober) vanuit die VG kerk in Strand begrawe.
Die kollig is ná die voorval ook op die negatiewe uitwerking geplaas wat dwelmhandel en -misbruik in die gemeenskap op kinders en huisgesinne het. ’n Ouerleiding-werksessie in samewerking met SMART Helderberg word vanoggend (Woensdag) van 09:30 tot 13:00 by die Beverley Hills Life Change-sentrum, op die hoek van Boundaryweg en Webbstraat, aangebied. Vir meer inligting oor die inisiatief, bel Brendyn Alloys by 021 853 1888.




