Familie en vriende van wyle Jaiden Julie staan met plakkate by die Strand-landdroshof om te wys dat hulle borgtog van die verdagte in die saak teenstaan.

Rick Marais

Die bedroefde familielede van die vermoorde Jaiden William Julie het gister (Dinsdag 25 Oktober) die borgtogaansoek van die moordverdagte met ’n plakkaat-optog voor die Strand-landdroshof teengestaan.

Dié optrede volg nadat die “liefdevolle” 21-jarige Sondag 16 Oktober in ’n beweerde messteekvoorval in Lwandle dood is.

Volgens die Lwandle-polisie is ’n 24-jarige verdagte, wat as Siphosethu Selani (24) geïdentifiseer is, weens die moord op Julie in hegtenis geneem.

Die oorledene se lewe is Sondag (23 Oktober) met ’n spesiale gedenkdiens gevier en hy sal Saterdag om 08:30 uit die St. Philip’s Anglikaanse kerk in Gordonsbaai begrawe word.

Naasbestaandes en vriende van Jaiden het eer aan die jong man in Dolfynstraat by Harmoniepark betoon. Wit ballonne is in die lug vrygelaat ter ere van ’n spesiale jong man wat baie se lewe aangeraak het.

’n Vriendin van Julie, wat ook die spesiale eerbetoon bygewoon het, het bevestig sy was by hom toe hy sy “laaste asem uitgeblaas het”.

Die vriendin, wat om veiligheidsredes verkies om nie haar naam genoem te hê nie, het op die aand van Julie se moord saam hom en ’n ander kennis in Lwandle gekuier.

“Ons het buite gekuier toe Jaiden uitkom met sleutels wat hy in die lug rondgeskud het. Hy het gesê een van sy kennisse het vir hom gesê as ons moeg is om hier te kuier, dan kan ons die sleutels vat en verder by die persoon se huis gaan kuier,” vertel sy.

Kort hierna is Julie glo met ’n bottel oor die kop geslaan en nadat sy vriende sy bloeiende kop met ’n T-hemp toegedraai het, het hulle hom na die persoon se huis waarvan hulle die sleutels gehad het, geneem.

“Toe ons by die huis aankom, het Jaiden ingegaan, maar voordat ons (ek en die ander kennis van Jaiden) kon ingaan, is ons voor die hek deur iemand met ’n mes gekeer.”

Die vriendin het toe vir Jaiden geskree, maar hy het nie terug geantwoord nie.

“Ek het toe ’n vriend van my gebel en hom gesê waar ons is en gevra of hy dalk met die mense kan kom praat, want hulle het ’n taal gepraat wat ons nie verstaan het nie.”

Kort hierna het Julie glo uitgestruikel gekom en in die pad omgeval. Dis toe hulle sien hy is gesteek. 

Kort hierna is die vriendin en ander persoon se selfone glo gesteel en moes hulle wag dat ’n vriend van die vriendin hulle kom oplaai en na die Helderberg-hospitaal gehaas het. 

“Jaiden se kop was op my bors. Ek het hom probeer vashou sodat die wond in sy nek toegedruk bly, maar hy het sy laaste asem op my bors uitgeblaas,” sê Julie se vriendin, wat sigbaar ontsteld was om die hele ervaring weer op te roep. 

Sersant Mthokozisi Gama, ’n woordvoerder van die Lwandle-polisie, het bevestig ’n saak van moord word ná Julie se dood ondersoek. Die jong man laat nie net sy gebroke ma en pa agter nie, maar word ook deur twee sussies en ’n broer oorleef. 

“Ná gr.10 het Jaiden saam met my kom werk,” sê Julian Julie, sy pa, trots. Kort hierna het hy by Checkers in Gordonsbaai aangesluit, waar hy tot nou gewerk het. 

“Ons gaan sy omgee mis. Hy was lief vir ’n ieder en ’n elk en was ’n treffer onder sy vriende,” sê Tesha, sy ma. 

Teen druktyd het ’n petisie waarin die familie maan dat Selani nie borgtog moet kry nie, al op 1000 handtekeninge gestaan. Die uitkoms van die borgtogaansoek was nog nie bekend teen DistriksPos en Helderberg Gazette se druktyd nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article