’n Voormalige maatskaplike werker, wat deesdae ’n projek-koördineerder is, glo as sy die lewe van een kind kan verbeter, verbeter sy die toekoms.
Leigh-Mae Martin (39), wat in Strand gebore is en tans in Rusthof woon, het ná ’n los werkie hier en daar besef haar passie is kindersorg en om kinders te help.
“Ek het ’n kursus in maatskaplike hulpwerk gaan doen en later my prakties by Kindersorg Helderberg. Daarna het ek by Kindersorg se hoofkantoor in Bellville gaan werk, maar my hart het Strand toe getrek, want dis waar my kinders op skool was en ek wou naby hulle wees,” vertel sy.
Sy en haar man het gereeld verby Badisa Strand se kantoor in Libertystraat in Rusthof gery, en dan het Martin vir haar man gesê sy gaan nog eendag daar werk.
“Ek het toe aansoek gedoen vir ’n pos by Badisa en dit gekry, en vandag is ek al drie jaar by Badisa,” voeg sy by.
Sy vertel sy het al baie dinge by Badisa vermag, maar sy is veral trots op die Voetspoortjies-program.
“Die naam is spesiaal, want die Here sê in die Bybel Hy los vir ons Sy voetspore en ons moet dit net volg. Dis waarom die naam – wat die huismoeders gekies het – so spesiaal is,” verduidelik Martin.
Die program het tans vier huismoeders en 31 kinders wat deur die dag by Badisa se kantoor versorg word, maar dit was nie aan die begin die geval toe net vier kinders deel was van die projek nie.
“Die huismoeders het gesukkel, want hul huise was nie groot genoeg vir al die kinders nie,” sê sy.
“Ons het ’n ruimte in ons gebou gehad; dit was eers die nutswinkel, maar ná baie inbrake en ’n klomp probleme het ons dié deel van die gebou toegebou en dit was net ’n oop ruimte. Ek het toe voorgestel ons kan dit in klaskamers en ’n kombuis omskep, waar ons na die 31 kinders kan omsien.”
Dinge gaan só goed by Badisa Strand dat hulle tans besig is om ’n speelgroep te registreer.
“Ons wil die ouers van die kinders help om hul lewe ook te verbeter, want baie van die ouers is van Sassa afhanklik. Ons het onlangs jobseeker-vorms wat ons by die Stad Kaapstad gekry het, in elkeen van die kinders se tassies gesit en elke ouer gevra om die vorms met hul besonderhede en hul identiteitsnommers in te vul,” sê Martin.
“Ons het die vorms na die munisipaliteit geneem. Dit gaan van die ouers ’n kans gee om werk as Expanded Public Works Programme-werkers te kry.”
Martin beskou haarself as ’n go-getter en iemand wat van niks iets kan maak en nie sommer ’n uitdaging eerste sien nie, maar eerder maniere sien hoe om die uitdaging of probleem op te los.
Sy is ook daagliks betrokke om hulp van buite-organisasies aan te vra vir programme waaraan Badisa werk of selfs om ’n onderneming te vra vir byvoorbeeld verf vir Badisa – iets wat sy daagliks doen en hanteer.
Haar wenk vir jongmense is om nou te doen wat hulle moet doen om eendag te kan doen wat hulle wil doen.
“Daar is baie opsies en beurse beskikbaar,” sê sy. “As jy ’n droom het, volg dit na. Moenie vaskyk teen die geld wat die bendes jou nou aanbied nie, want dis tydelik en net so lank soos jou pinkie. Belê in jouself en in jou drome,” sluit sy af.



