Unita van Wyk met ’n foto van haar geliefste seun. Sy sal hom altyd onthou vir die liefde en respek wat hy vir ander mense gehad het. Foto: Rick Marais


Die lewe van ’n Macassar-jongman is Sondagoggend (30 Oktober) in ’n noodlottige messteekvoorval geëis.

Die oorledene is geïdentifiseer as Jason van Wyk van Chris Hani-park. Die 25-jarige is naby die woning van die verdagte, wat in verband met die moordsaak in hegtenis geneem is, in ’n stryery doodgesteek. Van Wyk het glo aan vier steekwonde op die toneel beswyk.

Van Wyk se ma, Unita, sê haar seun was altyd liefdevol en respekvol teenoor ander.

“Hy sou nooit iemand anders seermaak nie. Hy was altyd saggeaard en ek weet steeds nie waaroor die bakleiery, wat sy dood veroorsaak het, gegaan het nie.”

Unita verduidelik: “My seun is na die verdagte se huis en hy het glo in die huis met die verdagte stry gekry. Die man het hom toe na bewering een keer gesteek en toe val hy glo grond toe. Hy het toe glo op hom gespring en hom nog drie keer gesteek. Hy het hom so hard gesteek dat ’n stuk van die mes binne-in my seun afgebreek het.”

Die Macassar-polisie het bevestig ’n 29-jarige verdagte is weens die moord in hegtenis geneem en sal vandag (Woensdag 2 November) vir die eerste keer in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn.

Die familie was teen druktyd nog besig met begrafnisreëlings.

Van Wyk word oorleef deur sy enkelma.

Jason van Wyk (25).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article