Voor is Matilda Willemse (Gustrouw-buurtwag), past. Danfred Kleinschmidt en past. Johannes Pick. Agter loop raadslid Sean Stacey en Niklaas Thysen (links), woordvoerder van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum.Foto: Rick Marais


Met plakkate wat lees “Hou ons gemeenskappe veilig”, “Nee vir wapens” en “Geen geweld meer nie”, was die boodskap duidelik dat die gemeenskappe van Broadlandspark, Sercorpark, Rusthof, Weltevreden, Gustrouw en Morkel’s Cottage keelvol is vir misdaad en geweld.

Die vreedsame optog wat in Rusthof begin het en in Morkel’s Cottage afgesluit is, was daarop gemik om gemeenskappe bewus te maak van al die euwels wat plaasvind reg onder almal se neus.

“Dis tyd om ons gemeenskappe terug te vat. Dis tyd om op te staan teen al die geweld en moorde in ons gemeenskappe. Genoeg is genoeg,” sê Apostel Manfred Jumat, voorsitter van die Broadlandspark-buurtwag en ’n gemeenskapsleier in die gebied.

Die vreedsame optog wat eintlik ’n staptog deur die gemeenskappe was onder die begeleiding van die polisie en verkeersdepartement het Saterdag (5 November) om 15:00 begin nadat die organiseerders eers die roete met almal moes bespreek en al die plakkate ook reggekry is vir die groot stap.

Sean Stacey, Wyk 100 se raadslid, het dit duidelik gemaak dat dit die misdadigers in die betrokke gemeenskappe is wat op die ou einde verantwoordelik is vir al die misdaad en moorde.

“Ons moet vreedsaam as een teen die misdadigers saam­staan. Ons moet die kultuur van ons gemeenskappe verander as dit by misdaad kom,” vertel Stacey.

Jumat verduidelik die geestelike leiers het met die inisiatief vorendag gekom en toe ander leiers en rolspelers genooi om deel te wees van die dag.

“Ons het gesoek na oplossings vir al die probleme en een van die gedagtes was ’n optog. Ons wou iets doen wat ons gemeenskappe kan verbeter deur die klem te plaas op die gemeenskap self en die eerste fase van die oplossings was die optog. Die doel van die optog was om bewusmaking te kweek en om terselfdertyd meer sigbaar te wees. Ons wou hê mense in die gemeenskap moet weet dat hulle nie alleen is in hul stryd teen hierdie euwels nie,” sê Jumat.

Hy voeg by dit was ook ’n boodskap vir misdadigers dat die gemeenskappe aan die mobiliseer is teen al die misdaad. “Die tyd loop uit vir misdadigers,” sluit hy af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article