Conan Doyle, die eienaar van Spar in Broadway, Strand, was die afslaer by ’n veiling waarin altesaam R22 300 ingesamel is.Foto: Rick Marais


’n Manne-ontbyt, met Toks van der Linde en De Wet Ras, is Donderdag 20 Oktober, deur ACVV Huis Soeterus gereël.

Die saamtrek was by die NG kerk Strand-Noord gehou, wat hul geriewe gratis vir die geldinsamelingsprojek aangebied het. Altesaam R54 500 is ingesamel.

ACVV Huis Soeterus is ’n organisasie sonder winsoogmerk en bied behuising aan ouer mense in Strand. Die tehuis is die oudste in die Helderberg.

Conan Doyle, die eienaar van Spar in Broadway Boulevard, Strand, het as afslaer opgetree en ’n stewige R22 300 is met die veiling alleen ingesamel.

Die landgoedere Somerbosch, Beyerskloof en Morgenster het elkeen spesiale wyn vir die veiling geskenk, asook Charmagne en Brent Monk.

Hennie Bekker se getekende bottel het R2 000 gehaal.

Die Springbokrugbyspeler Willie le Roux het sy getekende Springboktrui geskenk, wat deur Toks van der Linde teen R5 000 gekoop en teruggeskenk is vir ’n tweede veiling. Die trui is uiteindelik deur André Janse van Rensburg vir nog R5 000 gekoop.

ACVV Huis Soeterus het alle gaste, sprekers, skenkers, vrywilligers en personeel wat die projek moontlik gemaak het, bedank.

Skenkers wat bydraes tot die sukses van die ontbyt gelewer het, sluit in Stefanie Stopforth, wyle Graham Power, Albe Laker en Theo Claassen.

Die bestuur van ACVV Huis Soeterus het ook Almero Greybe, die tesourier van die ACVV Huis Soeterus se beheerraad, wat die inisiatief begin het en grootliks by die bemarking betrokke was, asook Hannelie Koekemoer, die hoof van die ACVV Huis Soeterus, wat die ontbyt beplan en georganiseer het, bedank.

ACVV Huis Soeterus lewer 24-uur-versorgingsdienste, drie maaltye, skoonmaakdienste en wasdienste aan gemiddeld 69 bejaardes.

Volgens Koekemoer beloop Huis Soeterus se maandelikse losiesgeld tussen R8 400 en R9 500, en die tehuis subsidieer tans vier beddens vir inwoners wat geen familie of inkomste het nie.

“Gereelde geldinsamelingsprojekte, soos die manne-ontbyt, help om dit te subsidieer. Ondersteun asseblief die tehuis deur tweedehandse klere vir maandelikse klere-markte te skenk, by die vrywilligersgroep betrokke te raak, ’n ouma of oupa aan te neem en hulle met geselskap, ’n sakgeldjie of lekkernye te bederf,” sê Koekemoer.

Die oud-Springbok Toks van der Linde bie op Willie le Roux se getekende Springboktrui, wat hy vir R5 000 gekoop en summier teruggeskenk het om weer opgeveil te word.Foto’s: Rick Marais

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article