Strand-buurtwag vereer as die heel beste uit honderde in metropool

Kaapstad-burgemeester Geordin Hill-Lewis, Carl Gersbach (Strand-buurtwag se voorsitter), Philip Versfeld (ondervoorsitter van Strand-buurtwag) en JP Smith (burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit) by die prysuitdeling.


Die Helderberg pronk met die buurtwag wat tydens die Stad Kaapstad se jaarlikse metro-wye buurtwag-prysuitdeling met die gesogte titel as Buurtwag van die jaar weggestap het.

Die Strand-buurtwag “bars van trots” oor die eerbewys wat sy toegewyde lede se moeite in die stryd teen misdaad en bevordering van gemeenskapsveiligheid die moeite werd maak.

Die Strand-gemeenskap se betroubare oë en ore, wat bekend staan vir die betekenisvolle bydrae tot die Kom se algehele welstand, is by die toekenningseremonie, wat Saterdag (12 November) in die raadsaal van die Moederstad se Burgersentrum plaasgevind het, vir dié belangrike rol vereer.

Die plaaslike buurtwag was een van verskeie in die metropool wat deel was van ’n benoemingsproses, wat in Augustus voortgesit is en Donderdag 6 Oktober gesluit het. Buurtwagte moes toekennings­aansoeke vir individuele lede en patrolleerders of ’n span in verskeie afdelings indien.

Die Strand-buurtwag het stof in die oë van al sy mededingers in die groep-afdelings geskop en die titel as Buurtwag-groep van die jaar beklink.

“Die Strand-buurtwag het ’n wesenlike verskil in die gemeenskap gemaak. Benewens die bekamping van misdaad is hulle ook betrokke by verskeie gemeenskapsopheffingsprojekte. Dit sluit in die aflewering van versorgingspakkies aan bejaardes en om die Stad te help met die veiligheidsinisiatief om kinders op die strand in die feestyd te merk. Hulle het ’n positiewe verandering in die gemeenskap gebring en is ’n krag om mee rekening te hou,” het dr. Anton Visser van die Stad Kaapstad se direktoraat vir veiligheid en sekuriteit in ’n persverklaring, wat kort ná die geleentheid deur die buurtwag uitgereik is, gesê.

Volgens JP Smith, die burgemeesters­komiteelid vir veiligheid en sekuriteit, is die toekennings ook ter erkenning van die toewyding en deursettingsvermoë van buurtwagte om wetstoepassings­agentskappe by te staan om veiliger gemeenskappe te skep.

“Buurtwag­patrolleerders is ook ambassadeurs en vervul ’n belangrike koppelvlakrol tussen gemeenskappe en die Stad Kaapstad. Ons wil graag dankie sê aan elke patrolleerder wat vrye tyd afgestaanhet om gemeenskappe ’n veiliger plek te maak. Die Stad bly daartoe verbind om opleiding, leiding asook misdaad­voor­koming- en patrollie­toerusting aan buurtwagte te verskaf. Ek hoop hierdie toekennings sal ’n motivering vir ander gemeenskappe wees om ook hul eie buurtwagte te stig sodat ons almal meer kan doen om ons inwoners te dien en te beskerm,” het Smith gesê.

Die Strand-buurtwag het ook sy dankbaarheid vir en aan elke patrolleerder en waarnemingslid uitgespreek. “Sonder julle sou Strand nie ’n veiliger plek gewees het nie en sou ons ook nie hierdie wonderlike toekenning ontvang het nie!”

Verder het die buurtwag beloof om die titel met trots te handhaaf terwyl hulle misdaad bly beveg en die gemeenskap waarvoor hulle so lief is, te dien.

Philip Versfeld, die ondervoorsitter, het bygevoeg dit is vir hulle ’n geweldige eer om die prys te ontvang as een van ’n groep van meer as 300 buurtwagte in die ganse metropool.

“Die prys is vir al ons lede – van die tante wat inbel en aanmeld dat iemand by haar buurman se voertuig peuter, die lid wat help om die rivier skoon te maak, die lid wat saam by een van ons ouetehuise besoek gaan aflê, of die patrollielid wat op ’n versoek vir bystand op ons radionetwerk reageer – elke lid van die Strand-buurtwag wat ’n bydrae lewer, hoe groot of klein,” het hy gesê.

“Ek wil ook noem dat die toekenning ’n hele paar trane veroorsaak het – trane van blydskap en geweldige trots onder van ons senior lede, wat oor die jare bygedra het om die Strand-buurtwag die beste te maak en sodoende Strand ’n veiliger plek vir al sy inwoners te maak.”

Carl Gersbach het as voorsitter van die Strand-buurtwag sy geweldige trots op die lede en hul harde werk en eindelose ure toegewy aan die buurtwag, wat nie ongesiens verbygaan nie, uitgespreek.

“As voorsitter besef ek hoeveel tyd en moeite lede gratis vir hul gemeenskap opoffer om dit ’n beter plek te maak. Ek is absoluut geëerd om die voorsitter van hierdie organisasie te wees,” het hy gesê.

“Dis nie elke dag is maklik nie, maar ’n toekenning soos hierdie maak dit die moeite werd.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article