‘n Groep leerders van twee Macassar-hoërskole het die geleentheid aangegryp om die skoonheid van die natuur te bewonder.


Die plaaslike gemeenskapsorganisasie, Macassar Our Pride, het op Saterdag 5 November ’n groep leerders van die twee plaaslike hoërskole, Macassar en Zandvliet geneem om die Macassar-sandduine te verken.

Die uitstappie het deel gevorm van ’n reeks aktiwiteite wat onder die organisasie se vaandel plaasvind.

Macassar Our Pride is ongeveer vyf jaar gelede deur Macassar-inwoners met ‘n kollektiewe doelwit gestig. Die organisasie is daarop gemik om die gemeenskap te verenig, sy jongmense te bemoedig en ‘n kultuur te skep waarin inwoners trots is op hul tuisdorp.

Anita Cloete, groepleier by Macassar Our Pride, het verduidelik dat “Projek Macassar”, soos dit bekend staan veral daarop gemik is om uit te reik na die kwesbaarste mense binne die gemeenskap.

“Ons fokus is dus veral op die jeug asook bejaardes wie se welstand dikwels nié in ag geneem word nie”, het Cloete gesê.

Met hul aankoms by Macassar-strand was die leerders toegerus met waardevolle vaardighede, soos aangebied deur die plaaslike lewensreddersklub. Hiervolgens was hulle geleer om mond-tot-mond asemhaling toe te pas.

Tydens die staptog het Macassar Our Pride die leerders met positiewe interaksie motiveer. Daar was veral klem gelê op hul skoolloopbaan en die noodsaaklikheid van positiewe invloed op hul jong lewens.

Soos met die vorige uitstappie na die Kylemore-bergroete was die leerders in ekstase van opwinding, in afwagting op die volgende geleentheid.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article