’n Foto op die toneel van verlede Woensdagaand se botsing in Linklaan, Macassar. ’n Polisiebeampte is weens vermeende dronkbestuur in hegtenis geneem.


Die Macassar-polisie ondersoek twee sake van dronkbestuur ná twee afsonderlike botsings, waaronder een waarvoor ’n speurder van die plaaslike polisiekantoor in hegtenis geneem is.

Die 41-jarige speursersant is kort ná die botsing, wat verlede Woensdagaand (30 November) in Macassar gebeur het, op die toneel deur kollegas in ’n polisievangwa gelaai.

Beeldmateriaal van die inhegtenisneming is deur omstanders geneem en op sosiale media versprei.

Ndakhe Gwala, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê Macassar-polisiebeamptes is Woensdag om 21:40 na die toneel in Linklaan ontbied.

“Twee voertuie het gebots en die bestuurder van die tweede voertuig was na bewering onder die invloed van alkohol. Hy is in verband met vermeende dronkbestuur in hegtenis geneem en sal sodra hy aangekla is in die Somerset-Wes-landdros­hof verskyn,” het Gwala gesê.

By verdere navraag het DistriksPos & Helderberg Gazette vasgestel die polisiebeampte het in sy grys Ford EcoSport in die rigting van Kaapstad gery en ’n rooi Volkswagen MK 1 het in die teenoorgestelde rigting (verby Natalie’s House Shop, beter bekend as Dandies) gery. Die polisiebeampte het glo in ’n vermeende poging om ’n motor voor hom verby te steek, reg van voor teen die Volkswagen in die aankomende baan gebots.

Die speurder, wat maande gelede op diensreëling van die Strand-polisiekantoor na Macassar verskuif is, het verlede Donderdag (1 Desember) op aanklag van dronkbestuur in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn. Die saak is vir verdere ondersoek tot Maandag 27 Februarie aanstaande jaar uitgestel en die verdagte is op borgtog van R1 000 vrygelaat. ’n Tugondersoek ingevolge die polisie se interne dissiplinêre prosesse sal tesame met die misdaadondersoek gedoen word.

. In die mees onlangse voorval is nog ’n vermeende dronkbestuurder ná ’n botsing in die gemeenskap vasgetrek.

Die botsing het Sondagaand (4 Desember) in Macassar-weg in die omgewing van die rioolaanleg gebeur toe twee voertuie gebots het.

Volgens die polisie het beamptes om 20:25 op die voorval gereageer. “Die bewering is dat ’n silwer Opel Astra voor die aankomende verkeer ingery en teen die BMW van ’n gesin met ’n peuter in die motor gebots het. Die Opel-bestuurder, wat na bewering onder die invloed van alkohol agter die stuurwiel was, is deur gemeenskapslede aangekeer,” het ’n polisiewoordvoerder gesê.

Die bestuurder, ’n 30-jarige inwoner van Zola, is op aanklag van dronkbestuur in hegtenis geneem en sal na verwagting eersdaags in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn.V Enigiemand met inligting oor dié botsings kan die Macassar-polisie by 021 857 7100 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article