“ ’n Kanker-afloswedloop is amper soos ’n kankerlyer se reis – ’n mens pak kanker aan, dan kry jy chemoterapie en dan moet jy rus, want die ‘chemo’ maak jou moeg. Jy vat dan ’n blaaskans voordat jy weer aangaan met dinge. Dis presies hoe die aflos werk – as jy moeg word, rus jy en kry jou asem terug, dan stap jy verder.”
Sumaya Gabier, die voorsitter van die Boland Islamic Council Women’s League (BICWL) het die saamtrek met dié woorde geopen.
Kankeroorwinnaars, families wat geliefdes aan kanker verloor het en mense wat kankerlyers en die families wou ondersteun, het Saterdag (3 Desember) almal by die Hoërskool Hottentots Holland se sportvelde saamgetrek met dieselfde doel – om mekaar te ondersteun.
Die mikpunt was om van 15:00 tot 22:00 10 kilometer om die baan te voltooi met soveel rus tussenin as wat almal benodig.
Verskeie stalletjies is langs die sportveld opgerig met kos en ander interessante goed, wat speelgoed, boeke, parfuum en allerhande lekkernye ingesluit het.
Die verwelkomingstoesprake is teen 15:00 gelewer en die Volkslied is gesing, waarna die dag met gebed geopen is.
Die aflos het kort daarna begin.
“Die dag was absoluut fantasties. Die ondersteuning en elkeen wat opgedaag het, het die dag spesiaal gemaak,” het Gabier gesê. Sy het bygevoeg sonder elke oorwinnaar en hul families, mense wat iemand verloor en kom ondersteun het en dié wat net opgedaag het om almal te ondersteun sou die dag nie so ’n groot sukses gewees het nie.
“Ek moet ook elke span wat ingeskryf het bedank. Ek wil ook die bestuurslede van die BICWL bedank vir hul bereidwilligheid en toewyding tot die saamtrek, en ook die polisie, buurtwagte asook die Stellenbosch Cancer Survivor Warriors vir hul ondersteuning bedank,” het Gabier afgesluit.



