Bekende name in die plaaslike musiekbedryf span hul musikale kragte saam om ’n huldeblyk-konsert ter nagedagtenis aan een van die Helderberg se mees geliefde persoonlikhede, Michael Magerman, wat op Kersdag in 2020 in die hospitaal aan Covid-verwante komplikasies oorlede is, te vier.
’n Gratis feesdiens, getiteld A celebration service in memory of Michael Magerman, word Vrydag (16 Desember) om 09:00 by die Calvynse Protestante kerk Macassar aangebied en geliefde gospelmusikante soos Ruben Davids en David Jantjies sal die verhoog saam met die Sedgwicks-egpaar betree.
“Vriende van die ontslape Michael Magerman het die geleentheid geïnisieer om hulde te bring aan die groot gees wat onuitwisbare spore in die gemeenskap getrap het en nooit vergeet sal word nie, asook om ondersteuning te bemoediging aan sy familie te bied,” het Davids met navraag meegedeel.
Magerman het in 2019 bekendheid verwerf nadat hy ’n aantal video’s, wat viraal gegaan het, tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi ter ondersteuning van die Bokke vrygestel het. Die 45-jarige inwoner van Macassar se skreeusnaakse snitte, wat op sosiale media gedeel is, het hom die nie-amptelike hype-man van die Bokke gemaak, en Magerman het voortgegaan om ’n plaaslike motiveringspreker te word en meer as 20 000 volgelinge op sy Facebook-blad te werf (“Bokke ‘hyperman’ passes on,” DistriksPos, 14 Januarie 2021).
“Hy was ’n ware rolmodel en goeie vriend vir ons almal,” het Davids aangevoer.
Volgens Davids, wat deur pastoor Craig Damon genader is om deel van die musiekgeleentheid te wees, is hul gesamentlike hoop vir die diens om eenheid, liefde en geestelike hoop onder gemeenskapslede te versterk. Hy het Helderbergers verder bemoedig om hul ondersteuning aan die inisiatief te bied om te wys dat die kom se mense nie mekaar vergeet nie, saamstaan, en familie en vriende in veral – veral in hul droefheid – bemoedig.
- Vir meer inligting oor die musiekgeleentheid, reik uit na Davids by 083 591 3167.




