Mosaïekkuns – die woord alleen roep by sommige mense die gedagte op van daardie doen-dit-self-kunsvlyt-projekte wat mooi is, maar nie sommer beskou sou word as hartroerende kunswerke wat met oorweldigende impak teen ’n muur kan pronk nie. Maar, ’n mosaïekkunstenaar van Somerset-Wes se meesterstukke bewys anders.
Estelle Louw se mosaïekkuns, wat in elke hoekie van haar huis ’n skouspel van fassinerende kleur bied, is ’n fees vir die oog. Die “akkuraatheid” van die samestelling van elke stukkie gekleurde glas bring glansryke lewe aan haar geverfde kunswerk, wat as basis dien.
“Ek put soveel bevrediging daaruit wanneer ek die perfekte kleurskakering glas gevind het en nog méér blydskap wanneer ek terugstaan en dit wérk! Met verf meng jy totdat die kleur perfek is – met mosaïek moet jy daardie spesifieke kleur gaan soek,” sê Louw.
Die 66-jarige kunstenaar is ’n afgetrede onderwyseres, en sedert sy die tuig ná 15 jaar as hoof van ’n preprimêre skool in Oudtshoorn neergelê het, wy sy haar voltyds aan haar passie vir kuns wat nou vrugte afwerp. Estelle het Saterdag 12 November in die Mosaïek-vereniging Suid-Afrika (Masa) se kompetisie by Arts on Acacia in Johannesburg die gesogte titel van Best on Showvir ’n tweede keer verower. Die mosaïek-kunsstuk waarmee sy die prestasie verower het, is haar uitbeelding van die wandelroete by die Helderberg-natuurreservaat.
Haar passie vir dié kunsvorm spruit uit ’n natuurlike liefde vir kuns. Sy was van kleins af mal oor prentjies maak en het kuns as skoolvak tot in matriek geniet. As grondslagfase-onderwyser kon sy later ook haar kreatiwiteit uitleef deur konsert-dekor te skilder, die kleuters se liefde vir kreatiwiteit aan te wakker en poppekas te hou. Nadat sy ná drie dekades van onderrig uit die onderwys getree het, het sy in Julie 2016 ’n week lange mosaïek-kursus by Orsoni-mosaïekskool in Venisië gevolg. Ná hierdie ervaring en ’n mosaïekwerksessie in Oudtshoorn het die mosaïek-gogga behoorlik gebyt – soveel so dat dit haar aangespoor het om met ander in kunskompetisies mee te ding. Sy het in April 2018 die eerste keer aan ’n Masa-kompetisie by die Breytenbach-galery in Wellington deelgeneem en die eerste en tweede plek ingeneem en die eerste keer ook die titel van Best on Show. In 2019 het sy weer in die Masa-kompetisie, ook by Arts on Acacia, meegeding en die eerste plek behaal. Een van haar meesterstukke was in dieselfde jaar ook op uitstalling as ’n finalis in die Tollman Bouchard Finlayson-kunstoekennings tydens die Hermanus FynArts-kunstefees. “Ek was elke keer aangenaam verras en in die wolke dat my mosaïekkuns só gevorder het dat ek die toekennings waardig was,” deel die trotse, bekroonde kunstenaar.
Nes elke mosaïekkunstenaar vir seker sy eie unieke styl het, is dit Estelle se gebruik van 95% loodglas en blink mosaïek-teëltjies vir spesiale effekte wat haar laat uitstaan bo die res. “Ek werk al jare lank sonder teëlsement – my stukkies glas moet dus teenmekaar lê. Ek gebruik groter tot baie klein stukkies glas in een prent,” verduidelik sy.
Deel van haar werkproses is om met ’n onderwerp vorendag te kom en sy doen dit met behulp van ’n foto, een wat sy graag geneem het of een wat tot haar spreek – maar daar moet iets besonders wees oor byvoorbeeld die lig, kleur of uitdrukking.
Dan skets en skilder sy rofweg die ontwerp voordat die gesny en geplak van die glas begin. Volgens Estelle kan dit van ses weke tot drie maande neem om een kunswerk te voltooi. Haar gunstelingkunswerke is onder meer een wat haar skoonseun se passie uitbeeld terwyl hy die tjello speel, want “jy kan sien hoe hy meegevoer word”, en ’n portretstudie van Otto (Framez) en sy vrou se troue vir “hul vreugde”.
Die ywerige kunstenaar put ure se genot uit die tydverdryf wat sy in die gerief van ’n ateljee in die dakvertrek van hul huis in Heldervue beoefen. Die ateljee het twee dakvensters wat die ideale daglig vir haar werk bied, en die mure kan getuig van trane oor die talle bloeiende vingers, die perfek gesnyde, piepklein stukkie glas wat val en verlore raak tussen al die skerwe, en die vreugde wanneer sy iemand se oog vir ’n derde keer oordoen en dit uiteindelik regkry. Maar Estelle sê sy is nie heeldag in haar werksplekkie nie. “Ek maak tyd vir my kleinkind, lekker kos kook, met ons twee Border Collie-honde stap en ’n uitreikprojek waarin ek vir kinders stories lees. Ek probeer drie ure soggens en drie ure smiddae werk.”
Benewens haar kunsprestasies spog Estelle ook met ’n 45ste huweliksherdenking wat sy saam met haar man, Coenie, op Sondag 17 Desember vier, asook hul twee kinders, ’n 41-jarige dogter en 31-jarige seun, wat albei baie trots op hul ma is.
Wat is volgende vir die talentvolle kunstenaar?
Sy deel dat sy uitsien na elke nuwe projek wat haar kant toe kom, om een jaar iets baie spesiaals te maak vir die Sanlam-portrettoekenning en die droom om ’n mosaïekkursus met Carol Shelkin te volg.



