Vroue in Aksie se verteenwoordigers asook slagoffers se geliefdes en familielede het almal vir die optog opgedaag. Foto: Rick Marais


Met ’n belofte om die Strand-polisie te beset as aandag nie aan hul klagtes gegee word nie, het die Vroue in Aksie-beweging Vrydag (9 Desember) ’n memorandum aan die polisie tydens hul optog oorhandig.

Met plakkate en foto’s van slagoffers en slagspreuke van die misdade en gebreke in die regstelsel het ma’s, suster’s, broers, pa’s en ander familielede van slagoffers hul misnoeë teen misdaad gewys en van die gesloopte Suiderstrand-biblioteek in Strand tot by Strand se polisiekantoor en landdroshof gestap.

Voor in die optog was Zorah Motasi, die stigter van die Vroue in Aksie-beweging, wat die meeste van die families se stories van verlies ken – stories van moorde wat nog nie opgelos is nie en stories van verlies wat die meeste van die slagoffers se families nie kan verwerk nie. Hul lewe is onwrikbaar deur geweld verander.

Die erns van die saak is ’n paar ure ná die optog beklemtoon toe ’n 20-jarige slagoffer sy lewe in ’n moontlik bendeverwante moord verloor het (lees die berig op bladsy 5).

“Ons het ’n goeie opkoms gehad vir ’n optog wat op ’n Vrydag moes plaasvind, want baie mense moes nog werk en kon dit nie bywoon nie. Die eintlike sukses van die optog sal bepaal word in die stappe wat die polisie en die landdroshof volgende gaan doen om al die probleme wat ons aan hulle uitgewys het, op te los,” sê Motasi.

Vroue in Aksie het hul eerste memorandum by die Strand-polisie aan lt.genl. Thembisile Patekile, die Wes-Kaap se polisiehoof, oorhandig.

Die memorandum dui aan dat die Strand-gemeenskap in vrees lewe en dat die gemeenskap ’n toevlugsoord vir misdadigers geword het en waar wetteloosheid heers.

“Ons geduld word al te lank getoets. Ons gaan nie meer toelaat dat die polisie sy plig versuim nie. Die optog, wat ook deel is van die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders fokus ook op ons vroue en kinders wat op plaaslike bodem aangeval en verkrag word. Hierdie vroue en kinders word in hul eie huise so aangerand, en die Strand-polisie doen niks oor dié misdade nie,” verduidelik Motasi.

Die ander klagtes sluit in die stygende vlakke van misdaad en die feit dat polisiebeamptes by die Strand-polisiekantoor soms nie die fone antwoord en aandag aan klagtes gee nie.

“Die polisie reageer nie op oproepe wat laat in die aand inkom nie – dit is juis wanneer vroue en kinders op hul weerbaarste is,” sê Motasi.

Een so ’n saak was dié van die Strand-tiener Byron Gouws, waar sy pa (Ashford) met sy selfoon-liggie op sy 17-jarige seun se lewelose liggaam afgekom het (‘Pa kry self sy tienerseun se lyk’, Woensdag 10 Augustus) nadat die polisie wat moes kom help soek, nie flitse gehad het om die pa na sy seun te help soek nie. Byron se pa het sy lyk Sondag 31 Julie in Broadlandspark aangetref nadat sy seun na bewering deur twee mans met ’n byl en ’n mes aangeval is. Sy lyk is op ’n ander plek as wat hy aangeval is, gestort.

Verder het Vroue in Aksie in hul memorandum aan Patekile aangedui dat korrupte polisielede, wat vermoedelik nou saam met bendes werk, die polisiekantoor moet verlaat. Die ander belangrike punt is dat die polisie se provinsiale taakmag al die cold cases wat tans nie deur die polisie opgelos is nie, oorneem.

Een so ’n saak is dié van Shakier Losper, wat Sondag 27 Maart met ’n mes in Erijaville doodgesteek is en van wie die twee verdagtes albei op vrye voet is nadat die saak voorlopig teruggetrek is. Shakier se ma, Gwendoline, het ook die optog bygewoon en vertel die seer gaan nie weg nie, maar dit raak net erger.

“Ek moes my trane terughou, want my kind se saak is voorlopig teruggetrek. Dit maak my bitter seer, want my kind se moordenaars loop nou vrylik buite rond.”

Brancoulin Fritz (19), ’n belowende rugbyspeler van die St. George’s-rugbyklub, se ma, Johanna Fritz, vertel dit is hartseer om te sien hoeveel van Strand se seuns al hul lewe verloor het. Haar eie seun is Saterdag 18 Junie by ’n partytjie in die bors gewond en het met sy aankoms by die hospitaal beswyk.

Motasi het ’n memorandum by die landdroshof aan die Wes-Kaapse provinsiale departement van justisie oorhandig.

“Ons het in die Strand agtergekom dat verkragting- asook moordverdagtes maklik borgtog kan kry. Ons wil hê hierdie soort verdagtes moet geen borgtog kry nie. Die laaste ruk sien ons ook dat kinders onlangs die slagoffers was van bendes wat geen respek vir ons gemeenskappe het nie.”

Motasi wil ook hê kinders wat op ander skiet, geen borgtog moet kry nie en die maksimum toelaatbare vonnis moet aan verkragters en moordenaars opgelê word.

Verder het Vroue in Aksie ook aangedui dat meer empatie by die gesins-hof vir slagoffers van geweld gewys moet word. Die polisie en landdroshof is 21 dae gegee om antwoorde op die memorandums te gee.

“Ten slotte eis ons ’n veilige en gesonde lewe in Strand. Laastens versoek ons ??u om hierdie aangeleentheid dringend te behandel en binne 21 dae ná ontvangs van ons memorandum met oplossings na ons terug te keer,” sluit die memorandum af.

Van die slagoffers se families is moedeloos na die verdagtes in die verskeie sake uit is op borg en die sake teruggetrek is. Foto: Rick Marais

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article