Tienkie Albertyn (74) met haar radio wat sy in die RSG-radiodramakompetisie gewen het. Foto:

Credit: SYSTEM

’n Afgetrede verpleegster van Strand het ná jare se skryf op die vyfde probeerslag die top-18 van die RSG-radiodramakompetisie gehaal.

Tienkie Albertyn (74) se radiodrama, genaamd Die Seekat, het die 18de plek uit 170 inskrywings gehaal.

“Dit was lekker om te hoor, want ons het elkeen ’n klein herlaaibare radio met USB-sok gekry, wat eintlik baie modern is, en ons het ook kommentaar oor ons werk van die beoordelaars af ontvang. Ons moes toe ons radiodrama’s herskryf en terugstuur,” vertel Tienkie.

Die vyf bestes is hierna gekies, en al het sy nie die topvyf gehaal nie, is Tienkie se radiodrama Donderdag 1 Desember op RSG uitgesaai.

“Ek was so gespanne. Dit was amper asof ek self die radiodrama op radio voorgelees het.”

Sy vertel Die Seekat is vernoem na ’n kroeg, en bo die kroeg woon twee vroue in woonstelle. Hulle begin later moeg raak vir al die geraas en probeer die polisie bel om te kom help, maar toe die polisie hul oproepe ignoreer, besluit hulle om self ’n plan te maak.

“Die twee ouvroue koop toe stinkbomme. Die man wat die stinkbomme aan hulle verkoop het, probeer hulle bel om hulle te waarsku die stinkbomme is eintlik gevaarlik en kan erg ontplof. Hulle ignoreer die man se oproep en gooi toe van die stinkbomme in die kroeg, maar dinge loop skeef. Die stinkbomme ontplof, skiet ’n ruit uit en steek ’n tafeldoek aan die brand.”

Die twee vroue in Tienkie se radiodrama moes toe na die polisie gaan om te verduidelik waarom hulle die stinkbomme gegooi het. Een vrou se dogter bel toe die dominee, en die twee kry skaam toe die dominee by die polisiekantoor opdaag.

“Die hele storie is eintlik ’n komedie, en om dit af te sluit, het die twee vroue op een van hulle se verjaarsdag saam met die polisie en die kroegeienaar in die kroeg gekuier en die verjaarsdag in vrede gevier.”

Tienkie vertel sy het begin skryf nadat sy ses jaar lank by ’n sendingstasie in Mosambiek gewerk het.

“Ek het net besluit ek wil self skryf; ek wil my stories vertel. Dis toe dat ek ’n boek oor my ervaringe in Mosambiek geskryf en self gepubliseer het. Kort daarna het ek ’n draaiboekkursus bygewoon en toe so vier keer vir RSG se radiodramakompetisie ingeskryf voordat ek met my vyfde probeerslag onder die top-18 beland het,” vertel sy trots.

Haar wenke vir jong en ouer skrywers wat hul hand aan radiodramas wil waag, is om so naby aan die werklikheid as moontlik te bly.

“Skryf oor dinge waarvan jy weet. Dit sal die skryfproses soveel makliker maak. Skryf in realiteit; skryf die werklikheid,” sluit sy af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article