’n Agttienjarige man van Macassar het vroeg in die nuwe jaar sy lewe verloor toe hy die slagoffer van ’n noodlottige skietvoorval geword het.

Ethan Lebo Hyster was Donderdag (5 Januarie) teen omstreeks 00:20 op pad na die Shell-vulstasie langs die N2 toe die voorval plaasgevind het.

Hy het saam met drie van sy vriende gestap.

Volgens sersant Desire Adendolf, ’n woordvoerder van die Macassar-polisie, het Ethan en sy vriende ’n wit Volkswagen Polo agter hulle gewaar. Die motor het donker ruite gehad.

“By die eerste spoedhobbel naby False Bay Primêr het Ethan en een vriend in die middel van die pad gestap terwyl die twee ander op die sypaadjie geloop het. Die voertuig het in Link-laan verby die vriende gejaag met die bestuurderskant die naaste aan Ethan,” sê Adendolf.

’n Skoot het toe geklap en Ethan en sy drie vriende het geskrik. Hulle het egter gesien iets is nie pluis nie toe Ethan aandui dat hy iets voel brand. Hy het gesê hy dink hy is geskiet. “Ethan het toe in die pad omgeval, en op daardie oomblik het die voertuig omgedraai. Sy drie vriende het weggehardloop en Ethan is toe nog ’n keer geskiet.”

Volgens Adendolf het die jong man twee skietwonde, een in die nek en nog een onder die bors, opgedoen. “Die drie vriende sê dit was donker, want op daardie oomblik was dit beurtkrag in Macassar. Hulle kon dus nie die motor se nommerplaat sien nie. Ons vra enigiemand wat meer inligting oor die voorval het om speursersant Jonathan Delport by 021 857 7100 te bel,” vra Adendolf.

Ethan se familie het verkies om nie met die media te praat nie. . Die Macassar-polisie het ook ’n waarskuwing uitgereik aan vroue in die omgewing nadat vier slagoffers die afgelope paar weke verkrag en aangerand is.

Volgens Adendolf is twee van vier verdagtes in hegtenis geneem, maar die polisie het steeds nie inligting oor wie die ander twee verdagtes is nie.

“Die tendens is om vroue te verkrag en hulle fisies te lyf te gaan. Een vrou is telkemale van kop tot tone met ’n mes gesteek terwyl ’n ander vrou gewurg en geslaan is nadat sy verkrag is,” sê Adendolf.

Die polisie maan vroue om nie laat op straat te wees nie en om nie alleen rond te loop nie. “Vroue moet ook nie gaan kuier, alkohol gebruik en dan alleen huis toe stap nie, want dan word hulle ook maklike teikens. Wees asseblief waaksaam en beskerm julself.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article