Leigh-Anne Hill staan trots met twee van haar boeke wat sy in 2021 en 2022 self gepubliseer het.


’n Plaaslike skrywer, wat in Somerset-Wes gebore is, het die eerste keer op 36-jarige ouderdom woord op papier gesit en nog nie teruggekyk nie.

Leigh-Anne Hill is meer as net ’n skrywer – sy is ’n uitgewer, ’n motiveringspreker en sy preek. As sy nie boeke vir grootmense skryf nie, skryf sy boeke vir kinders.

“Ek het my eerste boek, getiteld What is your driving force? You cannot be driven by fear, in 2021 geskryf.”

Dié boek vertel haar hele lewensverhaal met hoofstukke soos Where it all began”en “Love conquers all”, “The road I have travelled up to here”, “My testimony”, “When you are consumed by being worried”, “Sickness and health – Blessing and curses” en“The importance of prayer and reading the Bible.

Haar tweede boek, genaamd Say it and it shall be, wat sy beskryf as ’n profetiese boek wat handelaan oor jou woorde, kognitiewe denke, gedrag en soveel meer, het gevolg.

“Met my derde boek, wat ek in 2022 gepubliseer het, kyk ek in Slaptjips en Snoek na wat dit beteken om ’n gesonde huwelik en sekslewe te hê, en ek skryf ook oor lekker kos,” sê Hill.

Sy het ook haar voelers na kinderboeke uitgesteek en boeke soos Kersfees en Kersvader, die Paashaas en Paasfees, die Tandemuis, Die Tande Fee asook Christmas and Santa Claus, The Easter Bunny and Easter, The Tooth Mouse en The Tooth Fairy, geskryf.

“My negejarige seun, Joshua Lee inspireer die kinderboeke. In Kersfees en Kersvader en Paashaas en Paasfeeskyk ek na waar Paasfees en Kersfees vandaan kom en ek sluit heerlike Kers-resepte en Paasfees-goedjies in om te maak.”

Hill sê sy het begin skryf omdat sy as kind ’n voorliefde vir lees gehad het. Al die leeswerk in die biblioteek en as prefek by die Laerskool Hendrik Louw het haar geïnspireer.

“Alles waaroor ek skryf, is vir my insiggewend. Ek het my laaste twee boeke vreeslik geniet – juis omdat dit oor kinders gaan – en dit het Christelike en geloofaspekte ook in. Dis wonderlik om die lewe deur ’n kind se oë te sien en te beleef soos ek deur my seun doen. ’n Mens moet altyd jou kinderlike onskuld behou en altyd probeer om soos ’n kind te wees en te leer. My seun leer my elke dag iets nuuts. Ons huwelik en gesin is gebou op Jesus en Christelike beginsels, en enigiets in Hom floreer.”

Hill het juis haar uitgewery begin omdat sy ander mense wil help om die potensiaal in hulself te sien en sy help hulle om hul roeping in die lewe te haal. “Ek formatteer, redigeer en proeflees. Ek het in 2022 twee Christelike boeke vir klante gedoen en is tans besig met ’n paar klante se manuskripte.”

Sy motiveer mense om te skryf en om te doen wat jou hart begeer.

“Doen altyd waarvan jy hou, want as jy nie doen waarvan jy hou of oor passievol is nie, sal jy nooit gelukkig wees nie. Dis waaroor die vraag in my eerste boek, What is your driving force? You cannot be driven by fear, gaan.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article