Die Strand se gemeenskapspo­lisiëring­sforum (GPF) het ’n beroep op lede van die onderskeie gemeenskappe in hul bedieningsgebied gedoen om polisie-informante te word.

“Ons is deur kol. Khunjulwa Khanyile, die Strand-polisie se stasiebevelvoerder, ingelig dat geld vir polisie-informante beskikbaar is.

“Die informante sal die polisie kan inlig oor misdaad, wat die polisie in staat sal stel om onwettige vuurwapens en ammunisie uit die strate te kry,” sê Brendyn Alloys, die Strand-GPF se sekretaris.

Hy het herhaal die informante se identiteit sal geheim gehou word en alle inligting sal altyd as hoogs vertroulik hanteer word.

“Die polisie maak staat op lede van die gemeenskap om inligting oor misdadigers en misdaad te gee.

“Die polisie gebruik die inligting om intelligensiegedrewe optredes uit te voer om oortreders vas te trek.”

Volgens Alloys word baie ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie deur bendes gebruik om misdade te pleeg.

“Kom ons werk saam met die polisie en wetstoepassers om te verseker dat ons gemeenskappe veiliger is.”

  • Enigeen wat belang stel om ’n informant te word, kan kapt. Venessa Daniels by 076 125 4446 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article