’n Gesteelde swart Chevrolet Aveo is Woensdag (8 Februarie) deur beamptes van GBSec opgespoor kort nadat die Strand-polisie ’n waarskuwing aan veiligheidsbeamptes en buurtwagte uitgereik het om seker te maak dat motoriste in Strand hul voertuie korrek sluit.
Volgens Heyns de Waal, bedryfshoof van GBSec, is die verdagte wat agter die stuur van die gesteelde voertuig was, teen 14:05 in Webbstraat voorgekeer, vasgetrek en aan die Strand-polisie oorhandig.
Die diefstal van motors in veral Strand het die afgelope maand aansienlik gestyg. Dit is nie net diefstal van motors nie, maar ook diefstal uit motors, wat vir die polisie van kommer is.
Volgens die Strand-polisie is die probleemgebiede in Beachweg en aangrensende strate.
Die polisie waarsku verder dat skelms bedags asook soggens, wanneer motoriste hul motors parkeer en gaan branderplankry, by motors inbreek.
Philip Versfeld van die Strand-buurtwag sê die afgelope Saterdag is drie voertuie in Beachweg gesteel.
Die Strand-polisie sê motoriste moenie hul motors se sleutels iewers in of aan hul voertuie versteek nie, want dis juis ’n gewoonte wat veroorsaak dat misdadigers makliker toegang tot iemand se motor kan kry.
“Die ou probleem van remote jamming seëvier wee. Motoriste sluit bloot hul voertuie met ’n afstandbeheerder, maar voel nooit werklik aan die deurhandvatsels of die motor wel gesluit is nie. Dit is juis dan wanneer die alarm se sein onderskep word en die voertuig nie korrek sluit nie. Die misdadiger klim dan in jou voertuig en is in ’n japtrap weg. Wanneer jy uit jou voertuig klim, maak seker jy aktiveer die alarm en voel dat die deure fisiek gesluit is voordat jy wegstap,” waarsku Versfeld.
Die polisie het lede van buurtwagte en veiligheidsmaatskappy gemaan om bewus te wees van misdadigers se modus operandi en op die uitkyk te wees daarvoor ten einde dié soort misdaad te bekamp.



