Die steroïede waarop die Valke beslag gelê het laasjaar.


’n Sake-eienaar van Strand en een van sy werknemers wat verlede jaar in hegtenis geneem is toe hulle na bewering steroïede onwettig verkoop het, het verlede Woensdag (15 Februarie) weer in die Strand-landdroshof verskyn.

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaad-ondersoeke (Valke) het op 26 September 2022 op die fiksheid-winkel Nutrition Technology in Gants Plaza toegeslaan. Eers is die werknemer, Jean Stemmet (24) in hegtenis geneem, en daarna het die onderneming se eienaar, Christiaan Jacobus Roode (38), hom aan die Valke oorgegee.

Volgens die Valke-woordvoerder Zinzi Hani is die twee in verband met die beweerde oortreding van die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe (Wet 101 van 1965) aangekeer. Stemmet en Roode het die dag ná hul inhegtenisneming vlugtig in die hof verskyn voordat hulle op borgtog van R5 000 en R10 000 onderskeidelik vrygelaat is.

Volgens Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder van die direktoraat van openbare vervolging in die Wes-Kaap, is die saak tot Dinsdag 14 Maart vir verdere ondersoek uitgestel.

“Die staat en Roode en Stemmet se regspan (die verdedigingspan) moet eers inligting met mekaar deel voordat die hofsaak kan voortgaan,” sê Ntabazalila.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article