Die Macassar-polisie benodig die gemeenskap se hulp met inligting wat kan help om dié slagoffer van ’n noodlottige ongeluk te identifiseer.


Die Macassar-polisie doen ’n beroep op die plaaslike gemeenskap om na vore te kom met inligting wat kan help om ’n slagoffer van ’n noodlottige ongeluk te identifiseer.

Die voorval het byna ’n jaar gelede op die N2-snelweg buite Macassar gebeur en die lewe van ’n man, wie se identiteit steeds onbekend is, geëis. Die plaaslike polisie het verlede week in ’n finale poging ’n nadoodse uitbeelding in ’n gesigsamestelling gerekonstrueer en uitgestuur met die hoop dat familielede die slagoffer herken en na vore kom om hom te identifiseer.

Volgens ’n woordvoerder van die Macassar-polisie het beamptes van die polisiekantoor Donderdagaand 14 April verlede jaar op die voorval gereageer. Polisiebeamptes is om 18:50 deur die bestuurder, wie se motor die slagoffer getref het, na die ongelukstoneel op die snelweg net ná die vulstasie in die rigting van Kaapstad, ontbied. Met hul aankoms is die slagoffer, ’n swart man wat in ’n swart Adidas-baadjie geklee was, aangetref. Die slagoffer is na bewering getref toe hy die pad oorgesteek het, en is op die toneel dood. ’n Klagte van strafbare manslag is aangemeld.

“Hy is tot nou steeds onbekend en ons het nou reeds al die moontlike gedoen om die man te probeer identifiseer. DNS-toetse is gedoen en sy vingerafdrukke is geneem in die hoop dat hy dalk met behulp van ’n moontlike misdaadrekord geïdentifiseer kan word, maar niks. Sy naam is ook nie by binnelandse sake opgegee nie. Ons het sy gesig gerekon­strueer om familielede op te spoor en vas te stel of hy aan enigiemand bekend is,” het die polisiewoordvoerder gesê.

Die slagoffer het kort swart hare en is ongeveer 1,7 m lank met ’n gemiddelde gewig. Enigiemand met inligting kan speursersant Norman Ngonelo by die Macassar-polisiekantoor by 021 857 7100 bel. Alternatiewelik kan die provinsie se eenheid vir vermiste mense by 071 639 8344, 061 494 2032, 067 681 3375 of wcmpu@yahoo.com bereik word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article