Ná die Helderberg-rugbyklub se oorwinnings oor Valsbaai en Saldanha was hul toepassing die afgelope Saterdag teen die Hamiltons in Seepunt heeltemal te min.

Die tuisspan het die wedstryd met min hoogtepunte naelskraaps 10-7 gewen.

Helderberg het die stryd sonder ses van sy beste voorspelers aangepak, maar ten spyte hiervan het sy agttal Hamiltons voos geskrum met talle strafskoppe in hul guns.

In hierdie opsig was die 21-jarige vaskopstut Roux Nieuwoudt uitstaande. Hy het sy veel ouer teenstander skeef geskrum.

Die eerste punte het in die 27ste minuut gekom – ná ’n kragtige voorspelerdryf en ’n drie deur die slot Shane Kennedy. Die losskakel, Darren Hendricks, het verdoel (0-7).

Net voor die rustydfluitjie het Hamilton met ’n onverdoelde drie geantwoord (rustydtelling: 5-7).

Die tweede helfte het gewissel van aanvalle deur albei spanne en ewe indrukwekkende verdediging. Hammies het die wendrie met voltyd byna verstreke gedruk. Die doelskop was weer onsuksesvol en die eindtelling was 10-7. Vir Helderberg het die stut Nieuwoudt, die haker Danie Myburgh, die slot Kennedy, die flank Jady Labuschagne en die agsteman Conway Pretorius voorlangs uitgeblink, terwyl die senterpaar Quinn Visser en Bokkie Carstens en die heelagter Jeandre Lukas agterlangs die oog gevang het.

Aangesien die ligaprogram eers op Saterdag 15 April afskop, is daar ’n waarskynlikheid van nog vriendskaplike wedstryde. Hou maar die pers dop vir nuus in hierdie verband.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article