Badisa Strand het verlede Woensdag (8 Maart) ’n suksesvolle ouerleidingprogram aangebied, wat gefokus het op alkohol- en dwelmmisbruik en hoe dit families beïnvloed. Foto:

Credit: SYSTEM

Badisa Strand het voorverlede Woensdag (8 Maart) ’n suksesvolle ouerleidingprogram in samewerking met Helderberg Cares (SMART) by die Beverly Hills Life Change Centre aangebied.

Volgens Brendyn Alloys van Badisa Strand was die program se fokus alkohol- en dwelmmisbruik in gesinne.

“Ons boodskap aan individue en gesinne wat met alkohol en dwelmmisbruik sukkel, is om instansies en organisasies wat professionele hulp en behandeling bied, te kontak,” sê Alloys.

Hy sê die inligtingsessie het gefokus op die redes waarom mense alkohol en dwelms begin gebruik en hoe hulle dan in die greep van alkohol- en dwelmafhanklikheid vasgevang word.

Volgens Alloys is dit tragies en hartverskeurend om te sien hoe kinders en volwassenes hul toekoms en lewe deur alkohol- en dwelmmisbruik en uiteindelik verslawing verwoes.

“Die alkohol- en dwelmmisbruik van ouers is ’n risiko vir kinders se veiligheid en belemmer die sosiale en ontwikkelingsuitkomste van kinders, aangesien hulle blootgestel word aan bose karakters, onstabiele huishoudings, ongunstige huislike omstandighede en dwelmmisbruik op ’n vroeë ouderdom, en dit kan hulle permanent skaad.”

Alloys sê dit is belangrik om soveel as moontlik energie en fokus op intervensies en programme te plaas vir kinders en grootmense wat sukkel met dwelmprobleme en middelafhanklikheid.

“Dit is uiters belangrik dat mense moet uitreik na instansies en organisasies wat geregistreer is en professionele hulp vir mense met afhanklikheidsprobleme aanbied. Dit is juis waarom ek mense wil aanmoedig dat daar hoop is. As jy of enigiemand wat jy ken, hiermee sukkel, kan julle Helderberg Cares by 021 850 0792 skakel of ’n boodskap per WhatsApp na 083 327 3911 stuur,” sluit Alloys af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article