’n Skermgreep van die video waarin ’n mens kan sien hoe twee mense Avanté Smith (met die oranje T-hemp) met stokke slaan terwyl ’n derde probeer om hom vas te pen.

Credit: Rick Marais

’n Video van ’n 22-jarige man van Rusthof, Strand, wat deur twee ander mans met stokke aangeval word, het verlede Maandag (27 Maart) op sosiale media die rondte gedoen.

Avanté Smith, wat vroeër die dag omstreeks 13:10 by die Rusthof-superette in Sercor-rylaan met stokke aangeval is, vertel hy is steeds geskok oor die gebeure.

Smith, wie se kop, heup en arms in die voorval beseer is, het glo ’n koeldrank by die winkel gaan koop toe ’n man verby hom geloop en volgens hom aan sy boud gevat het.

Smith was na beweing só ontsteld deur dié gebaar dat hy die man glo met ’n koeldrank gegooi het. Die aanval het na bewering kort daarna gevolg. Hy is hy deur twee werknemers binne die winkel met stokke geslaan terwyl iemand anders hom probeer vaspen het.

In die video kan ’n mens duidelik sien dat Smith aanvanklik nie terugbaklei nie, maar op ’n tydstip krap hy een van die mans en byt ’n ander in selfverdediging.

Akbar Hussian, die eienaar van Rusthof-superette, het die voorval bevestig en volgens hom is Smith iemand “met lang vingers”, wat al voorheen glo by sy winkel gesteel het.

“Hy het die keer ook probeer steel, maar toe keer ons hom vas en bel die polisie. Dit is toe dat hy my geslaan het. Ons wou hom laat gaan, maar hy het toe gedreig om ’n vuurwapen te gaan kry waarmee hy ons wou kom skiet,” vertel Hussian.

Smith vertel ’n heel ander weergawe van die storie, en volgens hom het hy – nadat hy die man met ’n koeldrank gegooi het – vir die eienaar van die winkel geld vir die koeldrank aangebied. Volgens Smith het die eienaar die geld op die grond gegooi voordat hy deur die drie mans aangeval is.

“Twee mans het met stokke ingeloop en my begin slaan. Ek wou nie terugbaklei nie, maar ek moes een van hulle byt en die ander een krap om myself te verdedig,” vertel Smith.

Hussian vertel dat Smith al vorige kere die winkel verbied is nadat hy glo betrap is dat hy goedere gesteel het terwyl Smith weer van mening is dat hy altyd ’n getroue klant is wat aangeval is met stokke nadat hy onskuldig was en net sy regte wou verdedig.

Smith, wat intussen by die hospitaal was vir X-strale en ander ondersoeke, het volgens medici frakture opgedoen en is nie ernstig beseer nie.

Hussian en Smith het albei by die polisie klagtes van aanranding teen mekaar aangemeld.

Lede uit die gemeenskap het Woensdag (29 Maart) ’n optog in Sercorpark gehou omdat hulle voel die eienaar van die Rusthof-superette asook sy werknemers hanteer klante nie reg nie.

Die onderneming se deure was verlede Woensdag en Donderdag (29 en 30 Maart) gesluit juis omdat die eienaars bang was dat die publiek wraak sou neem en die winkel sou beskadig.

Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), veroordeel die voorval waarin Smith na bewering deur werknemers van die superette aangerand is. “Die gemeenskap is ontsteld en woedend oor die optrede waarby buitelandse burgers wat by hierdie winkel betrokke is wat veronderstel is om ’n gemeenskapsvriendelike winkel te wees, so optree. Almal het die reg om met respek behandel te word. Die GPF stem saam met die gemeenskap dat die saak ernstig opgeneem moet word deur die ondersoekbeamptes by die Strand-polisie, wat aangewys is om die saak te ondersoek,” sê Thysen. Die GPF bevestig dat hy die slagoffer en sy familie ná die skokkende voorval emosioneel en geestelik sal ondersteun.

“Ons pleit met die gemeenskap om rustig te wees en toe te laat dat die reg sy pad sal stap.”

Hussian en Smith het Vrydag (31 Maart) vlugtig in die Strand-landdroshof verskyn voordat die saak tot Donderdag 1 Junie uitgestel is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article