Misdaad in die Strand het onlangs in die kollig gekom nadat die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (Strand-GPF) met die Strand-polisie vergader het om vas te stel wat die probleme is en hoe hulle misdaad kan help bestry.

Ná voorvalle soos die onlangse messteekvoorval by Strand Sekondêre Skool (SS), waar twee leerders op Maandag 30 Januarie gesteek is en behandeling in die hospitaal moes ondergaan, sowel as die laaste paar maande se styging in diefstalle van en uit motors in die Strand, is die GPF genoop om die afgelope twee weke gereeld vergaderings met die bestuur van die Strand-polisie te hou.

Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van die Strand-GPF, het juis met die polisie vergader oor kontakmisdrywe in sektor 1 en 2, asook diefstalle van en uit voertuie in sektor 3, wat die laaste paar maande erg gestyg het.

Philip Versfeld van die Strand-buurtwag het bevestig dat 11 voertuie in Desember in Strand gesteel is, en in Januarie is 12 gesteel.

Dié syfer vir Februarie het egter op agt te staan gekom.

“Die diefstal van voertuie bly ’n konstante uitdaging aan ons in die Strand en breër Helderberg. ‘Remote jamming’ is ’n realiteit. Voel altyd aan jou motor se deur nadat jy die alarm geaktiveer het of dit wel gesluit is. Indien jou voertuig snags nie in ’n motorhuis toegesluit word nie, probeer dit ten minste op ’n goed beligte plek parkeer. Oorweeg dit om ’n opsporingstelsel in jou voertuig aan te bring – dit is meer bekostigbaar as wat jy dalk besef en sal die premie vir jou versekering verlaag,” sê Versfeld.

Thysen sê die GPF, buurtwag-strukture, die polisie en veiligheidsmaatskappye is besig met ’n misdaadvoorkomingsbenadering om misdaad-neigings in die gebied die hoof te bied.

“Ons gaan sigbaarheid in die probleemgebiede verskerp. Ons wil ook briewe uitstuur na inwoners in die verskeie sektore om hulle bewus te maak van die misdaad en hulle aanspoor om hul huise beter te beveilig en om paraat te wees.”

Hy sê skole sal ook ondersteuning van die GPF en ander rolspelers kry en veiligheid en sekuriteit by van die problematiese skole, insluitend SS, sal verskerp word. Daarvoor sal ouers asook alle belanghebbendes se bystand egter benodig word.

“Dis die veiligheids- en gebeurlikheidsplanne wat ons tans toepas om kontakmisdade, eiendomsmisdade asook diefstal van en uit motors te bestry,” sê Thysen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article