Ywerige drawwers kan uitsien na enkelspoorroetes en asemrowende skilderagtige uitsigte oor die Wynlande met ’n Paasmaandagoggend-wedloop op die Knorhoek-wynlandgoed.Foto:


Die blare verander van kleur, die son kom later op en dis koeler snags. Herfs is ’n wonderlike tyd van die jaar om die kleurvolle natuurskoon in die Wynlande te geniet.

Ywerige drawwers sal Paasmaandagoggend (10 April) getrakteer word op enkelspoorroetes en asemrowende uitsigte oor die Wynlande van die Knorhoek-wynlandgoed af.

Die Easter Trail Run, wat deur Sportsmans Warehouse aangebied word, behels ’n 6 km-uitdaging en strawwer 11 km-weergawe wat om 08:30 begin. Deelnemers kan uitsien na ’n verfrissende oggend-wedloop, en wie weet – miskien hardloop jy die Paashaas in die woud raak of kom op die heerlike vonds van paar Paaseiers af!

Die uitdaging behels kenmerkende Dirtopia-roetes deur woude en verskeie ander terrein in die Knorhoekvallei onder die Simonsberg-berg, wat altyd ’n spesiale draf-ervaring in die Stellenbosch-omgewing bied en selfs meer kosbare Paasnaweek-herinneringe sal skep!

’n Waterpunt met genoegsame voorraad op al twee die roetes sal ook vars vrugte insluit, terwyl alle deelnemers wat die eindstreep haal, ’n medalje en ’n Coke ontvang. Koffie sal beskikbaar wees wanneer registrasie om 07:30 open en die restaurant sal wegneem-kitsetes aanbied.

Alle deelnemers staan ’n kans om koopbewyse van die titelborg en Falke-sokkies sowel as wyn in die gelukkige trekking te wen.

Pryse gaan ook aan die wenners in elke afstand uitgedeel word.

Deelnemers kan uitsien om die oggend op die grasperke te geniet, deur die skilderagtige tuine te kuier of om ongelooflike herstelmasserings te ondergaan, wat ná die wedloop aangebied word.

Belangstellendes kan aanlyn by www.dirtpass.co.za inskryf en bespaar op die koste met vooraf-inskrywings (wat op Vrydag 7 April sluit) teen R140 vir die 6-km-uitdaging, R170 vir die 11-km-roete en R60 vir kleintjies wat by die hardlooppret aansluit. Laat inskrywings sal die oggend teen ’n hoër fooi aanvaar word.

’n Paaseiersoektog vir kleintjies wat saamgesleep word, wag op die kleinspan – bring dus die hele gesin!

Regstreekse tydsberekening deur Trail Tag is opsioneel (maar word aanbeveel) en die professionele fotograaf Chris Hitchcock sal die herinneringe vasvang.

  • Vir meer inligting, besoek www.dirtopia.co.za, SMS 078 343 3572 of e-pos info@dirtopia.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article