’n Een-en-dertig-jarige man van Strand, wat eersdaags ’n pa sou word, het sy lewe verloor voordat hy sy eerste kind in die wêreld kon verwelkom.
Quintin Goliath (31) se dood word deur die polisie beskou as ’n moord waarvoor hulle nie ’n motief het nie.
Volgens sersant Mthokozisi Gama, ’n woordvoerder van die Lwandle-polisie, is ’n geregtelike doodsondersoek geopen nadat Goliath verlede Sondag (2 April) vermoedelik deur ontstoke gemeenskapslede naby die Broadway Square-winkelsentrum aangerand is en aan sy beserings beswyk het.
Die polisie is steeds nie seker oor presies wat gebeur het nie.
Maria Niewoudt, Goliath se ma, is kort ná die voorval, wat omstreeks 22:43 plaasgevind het, ingelig van wat met haar seun gebeur het.
“Hy het nog geleef toe ek by hom kom. Hy het gepraat, maar was baie swak. Ek kon sien my seun gaan dit nie hierdeur maak nie,” sê Niewoudt.
Volgens die polisie het Goliath “grusame beserings oor sy hele liggaam” in die voorval opgedoen.
Hy is kort daarna weens die erns van sy beserings in die hospitaal dood.
Niewoudt onthou haar seun as ’n vriendelike en liefdevolle jong man wat in die kerk se koor gesing het.
“Hy het ten tyde van sy dood nie ’n werk gehad nie, maar hy het destyds vir sy oupa in die boubedryf gewerk,” vertel sy ma.
Sy sê Goliath se meisie, wat met die twee se eersteling swanger is, sal na verwagting binne die volgende paar weke geboorte skenk.
“Ons weet steeds nie wat gebeur het of hoe hy so beseer is nie. Dis ’n raaisel vir ons,” voeg Niewoudt by.
Gama sê die polisie doen ’n beroep op die gemeenskap om hulle daarvan te weerhou om die reg in eie hande te neem aangesien dit nie hulle of die regstelsel help nie.
Die Lwandle-polisie versoek die gemeenskap van Strand, asook Lwandle, om indien enigiemand enige inligting oor die voorval het, die ondersoekbeampte by 021 845 2060 te bel.
Goliath se familie was teen druktyd nog besig om begrafnisreëlings te tref.. In ’n afsonderlike voorval word nog ’n saak van moord deur die Lwandle-polisie ondersoek nadat ’n 25-jarige vrou Saterdag 1 April in ’n bakleiery met ’n ander vrou in die Siyanyanzela- informele nedersetting in Asanda Village doodgesteek is.
Volgens Gama het die slagoffer en ’n 29-jarige vrou omstreeks 18:00 stry gekry en ’n bakleiery het uitgebreek.
“Die ander vrou het die slagoffer aan die regterkant van haar nek gesteek. Die slagoffer is na die Helderberg-hospitaal geneem, waar sy later dood verklaar is.”
’n Vrou, wat op die toneel in hegtenis geneem is, het verlede week op ’n aanklag van moord in die Strand-landdroshof verskyn waarna die saak vir formele borgtogaansoek uitgestel is.



