’n Man van Macassar het Paassondag 9 April met sy lewe geboet nadat hy en ’n vriend wat hom geld geskuld het, stry gekry het en hy met ’n mes gesteek is – als oor R7 wat die vriend hom geskuld het.

Francois Morgan Jaers (31) het inmekaargesak nadat hy omstreeks 18:00 een keer deur iemand, wat sy familie as sy vriend beskryf het, in sy nek gesteek is.

Volgens die Macassar-polisie het die 21-jarige verdagte homself aan die polisie oorgegee kort nadat hy Jaers in Peter Jacobs-rylaan aangeval en doodgesteek het.

Maria Jaers (59), Francois se ma, wat verder af in die straat woon van waar haar seun doodgesteek is, was geduren­de sy laaste oomblikke by haar seun.

“Ek draai nie doekies om oor wie Francois was nie. Hy was soms met die verkeerde dinge besig, maar hy het ’n goeie hart gehad en het nie verdien om so ’n wrede dood te sterf nie,” sê sy.

Maria se een kleinkind, wat verkies om anoniem te bly, het aanskou hoe Francois gesteek word en hoe hy ’n paar treë gestrompel het voordat hy dood neergeval het. “Hy (Francois) het sy vriend sien sit en hom gevra waar is sy R7 wat die vriend hom nog skuld.

“Ek het toe net gesien hoe die persoon maak of hy iets uit sy sak haal, maar dit was toe ’n mes, waarmee hy Francois gesteek het,” vertel Maria se kleinkind.

Volgens die Macassar-polisie het Francois die verdagte glo ’n paar dae tevore R7 gegee om vir hom dagga te gaan koop, en hy wou toe by sy vriend weet waar is die dagga of sy geld.

“Die twee het mekaar toe begin rondstoot, en die ‘vriend’ het toe glo ’n mes uitgehaal en die slagoffer blykbaar een keer aan die voorkant van sy nek gesteek,” bevestig die polisie.

Die verdagte het vlugtig in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn waar die saak tot vandag (Woensdag 19 April) uitgestel is. Die ongetroude Jaers laat sy ma, twee broers en twee susters agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article