’n Vierjarige seuntjie van Macassar het sy lewe verloor nadat hy kort ná ’n sokker-oefensessie deur ’n voertuig in Kramat-pad omgery is.
Dimitri Patience is voorverlede Donderdag (13 April) by die plaaslike brandweerstasie in Macassar dood verklaar nadat hy omstreeks 19:00 deur ’n voertuig getref is. Sy bedroefde ma, Berenice Patience (38), is in soveel skok en rou gedompel dat sy nie veel oor haar kind kan praat of oor presies wat op die dag van die tragedie gebeur het nie.
“Hy was saam met vriende na ’n sokker-oefensessie. Die ongeluk het op pad terug na die huis gebeur,” vertel sy.
Sy kon nie verder uitbrei oor presies wat op daardie aand gebeur het nie.
Die Macassar-polisie het bevestig ’n saak van strafbare manslag word ondersoek en ’n verdagte, wat die voertuig bestuur het, is geïdentifiseer.
“Ons moet nog die verdagte asook ooggetuies ondervra. Ons is nog besig met die ondersoek en kan nie veel meer inligting oor die saak gee nie. Die verdagte is nie in hegtenis geneem nie,” het speursersant Eric Mboniswa, die ondersoekbeampte in die saak, gesê.
Patience beskryf haar seun as ’n jong siel wat altyd stil was, maar ’n pragtige mens was.
“Hulle sou net sokker gaan speel, maar toe kry ek die tyding van my kind se dood.”
Dimitri se begrafnisdiens is Vrydag (29 April) by Beyers Naudé-weg 3 in Macassar Village en begin om 08:00.
Ná die diens sal die familie en vriende saam na die Welmoed-begraafplaas gaan om vir oulaas hul eer aan klein Dimitri te betoon.



