Bettie, die akteur Dean Smith se supergewilde persona op sosiale media, vertel vanjaar die heel eerste keer in lewende lywe haar stories by die Suidoosterfees met Hallo, is Bettie wat praat.


Kaapstad se Suidoosterfees en Suidooster, kykNET se gewilde reeks, is soos familie wat dieselfde van deel. By vanjaar se 20ste fees is talle van die sepie se sterre in verskillende produksies op die feesverhoog.

In 2022, was Suidooster Stormsterk, ’n musiek- en dansproduksie, ’n wegholtreffer op die feesprogram, en in 2023 kom blaas Suidooster-akteurs die fees se verjaarsdagkerse uit met Suidooster Stormsterk 2.

Jawaahier Petersen, Irshaad Ally, Eden Classens, Irvine van der Merwe, Natasha van der Merwe, Marco Spaumer en Simone Biscombe is op Saterdag (29 April) om 17:00 op die Artscape-verhoog vir dié spesiale geleentheid. Dié produksie geskied in samewerking met The Stage Performing Arts Studio van Durbanville.

Dean Smith, Suidooster se geliefde Wade, is Saterdag (29 April) om 18:30 in Hallo, is Bettie wat praat te sien. In dié komedie is Dean in die skoene van die skreeusnaakse Aunty Bettie wat beroemd en berug geraak het op sosiale media.

Feesgangers kan op Vrydag (28 April) om 12:30 en Saterdag (29 April) om 15:30 kom kyk wat die tante alles kwytraak as die mikrofoon in haar hand gedruk word.

Die talentvolle Dean, wat ook al ’n kykNET Fiësta-toekenning ontvang het, is ook in die teaterproduksie Karatara te sien. Dié stuk is op die Knysna-ramp van Oktober 2018 geskoei toe ’n brand in die middel van die nag dele van die dorp in puin gelê het. By KKNK 2022 is dit as beste debuutproduksie aangewys en vir verskeie toekennings benoem. Karatara is op Maandag (1 Mei) om 16:00 op die planke by die fees. Die Suidoosterfees duur van vandag (Woensdag 26 April) tot Maandag 1 Mei by Artscape en kaartjies is by Computicket te koop.

Magda Louw kies koers verhoog toe
Daar is goeie nuus vir aanhangers van die komediereeks Magda Louw, wat onlangs op kykNET geëindig het: Magda maak binnekort weer ’n buiging op die teaterverhoog!

Dié lagreeks se draaiboek is geskryf deur Desiré Gardner, wat ook die naamrol vertolk.

Desiré het aanvanklik Magda Louw as ’n eenpersoon-verhoogproduksie geskep en dit is in 2021 as ’n kykNET-storiefilm ontwikkel voor dit in ’n reeks omskep is.

Nou gaan Desiré die Magda Louw-verhoogstuk herleef en dit debuteer by vanjaar se Suidoosterfees.

Die gesoute akteur en Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk, wat Magda se man Erhard in die TV-reeks speel, hanteer die regie van die teaterproduksie.

In dié vertoning, sê Desiré, gaan Magda haar siening van vrouwees en menswees met feesgangers deel.

“Dis net Magda op die verhoog, so ons leer haar ken op ’n ander manier, meer intiem. Sy gaan ook dans en sing!”

Volgens Desiré is dit vir haar wonderlik om te sien hoe kykers met Magda en Erhard vereenselwig het.

“Hulle deel in Magda en Erhard se lief en leed, terwyl hulle daaroor kan lag en nostalgies raak,” sê sy.

“Baie mense sien iets van hulself in een van die karakters of die situasies, want hulle deel dalk dieselfde vrese en vreugdes. Só raak die reeks aan lewenswaarhede waaraan ons niks kan doen nie, soos oudword en verlies.”

Desiré het ook reeds aan die tweede reeks begin skryf en dit sal in 2024 op kykNET uitgesaai word.

  • Kaartjies vir die Suidoosterfees-produksie is by Computicket te koop.
    https://tickets.computicket.com/event/magda_louw/6939874 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article