’n Kleremaakster van Helderzicht, wat al die afgelope 60 jaar klere maak, het verlede maand (April) haar 72ste verjaarsdag gevier.
Amber de Wet het haar verjaarsdag op Sondag 23 April stylvol by haar huis in Februarystraat gevier – dieselfde huis wat sy byna drie maande gelede van ’n vlammehel gered het (“Gemeenskap blus brand,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 8 Maart).
Sy en haar seun het Donderdagaand 9 Februarie wakker geskrik toe haar huis aan die brand geslaan het.
Maar, die gemeenskap het ingespring en met sukses gehelp om die brand te blus. Inwoners van Februarystraat het De Wet met ’n tuinslang asook emmers vol water te hulp gesnel en haar houthuis, wat sy weens ’n vorige brand in 2011 van die grond af herbou het, van verwoesting gespaar.
Lank voordat De Wet en haar gesin hieroor die nuus gehaal het, het sy egter iets merkwaardigs begin doen – iets wat haar lewenspad sou bepaal.
Sy het op 12-jarige ouderdom tydens skoolvakansies begin om haar ma te help om aan klere te werk. “Ek het op 13-jarige ouderdom geleer hoe om ’n kleremaakster te word. Ek het die eerste twaalf jaar by mense, wat ’n klere-werksplek gehad het, gewerk en in daardie tyd die lewe aan my eersteling geskenk en getrou,” vertel sy.
Sy was net 25 toe sy by ’n dorpswinkel aangesluit en klere gemaak het, maar het in 1991 by verskeie plekke gewerk om die pot tuis vir haar gesin van vier, na wie sy moes omsien, aan die kook te hou. “Ek het eerste by Helderberg Village begin, en hier het ek aan mense se klere gewerk en dit reggemaak en verstelwerk en so gedoen. Ek het Christine de Wet, wat destyds in Nommer Asseblief gespeel het, ontmoet. Ek het jare daarna nog vir haar gewerk en haar met haar eie klere gehelp. Sy is verlede jaar oorlede,” onthou De Wet.
Daarna het sy vyf jaar as ’n stoorvrou gewerk en kort daarna by Helderberg Gordyne afgesluit.
Sy het daarna deeltyds van haar huis af begin werk.
De Wet het ook by ’n ander onderneming aangesluit en trou- en matriekafskeidsrokke gemaak en lang, laat ure gewerk, maar later besluit dit is nie meer vir haar nie. Sy het toe meer en meer van die huis af begin werk en later voltyds van die huis af – net as kleremaakster.
“Ek glo steeds die Here het my die gawe gegee om my hande en my kop so te kan gebruik. Ek sou nooit ná al die jare steeds kon doen wat ek doen as dit nie vir die Here se hand was nie.”
Sy bedank die gemeenskap van Helderzicht wat haar die afgelope 35 jaar wat sy ’n enkelouer is, ondersteun.
Haar wenk aan jongmense wat dieselfde loopbaan as sy wil kies, is dat hulle die wil moet hê. “Dit moet in jou wees, dié kleremaakster-ding. Anders gaan jy nooit ’n sukses van jou werk kan maak nie. Dan moet ’n mens ook onthou om aan te hou moedhou, kophou en altyd die Here in al jou weë te ken,” sluit de Wet af.



