Miguel de Allende sit, links van hom staan sy vrou, Lorna. Langs hom staan sy twee seuns Domingo en Albert. Foto: Rick Marais


’n Brand wat op Saterdag 29 April in die Kays-woonwapark in Strand gewoed het, het ’n familie letterlik met net die klere aan hul lyf gelaat.

Wetstoepassers, verkeersbeamptes, veiligheidsbeamptes en lede van Afriforum Strand Patrol het verlede Saterdag kort ná 13:30 ingespring om te probeer help, maar dit was tevergeefs. Ses informele strukture, ’n woonwa en ’n motorvoertuig is in die brand vernietig (“Almal spring in om by Kays te help,” DistriksPos & Helderberg Gazette, Woensdag 3 Mei).

’n Bejaarde pa en ma en hul twee seuns asook hul onderskeie gesinne het al hul besittings in die brand verloor. “Ek was in die kombuis besig om snoek te verpak en het ook kruideniersware weggepak toe die ligte afgaan. Ek het gedog dis beurtkrag,” sê 75-jarige Miguel de Allende.

Hy het egter besef dit is nie beurtkrag nie en sy vrou het hom ingelig rook kom van ’n ander deel van die huis af.

“Ek het na my kleinseun se kamer gehardloop om te kyk of hy nie dalk nog slaap nie, want hy slaap deur enige ding. My een seun skree toe my kleinseun is by die werk. Ek het amper my bewussyn verloor – só baie rook was in die lug.”

Hy vertel die brand het nie weens ’n gastenk of iets uitgebreek soos beweer is nie.

“Die brand was al lankal aan die woed toe een van die gastenks bars, maar dit was nie die oorsaak van die brand nie – as hier ’n gas-lekkasie was, dan het nie een van ons vandag hier gestaan nie.”

Tydens DistriksPos & Helderberg Gazette se besoek aan die gesin het Miguel deur die afgebrande rommel van sy huis gestap en by ’n Bybel wat in die proses gebrand het, gaan stilstaan.

“Ons het als verloor – al 14 van ons. Die brand het so vinnig versprei. Die brandweer was so vinnig op die toneel, maar die vlamme het net te vinnig versprei,” het hy bygevoeg terwyl hy die Bybel deursoek het vir ’n foto van sy een kind.

Die sieklike Miguel het destyds ’n langwerpige huis met hout gebou, waar almal die afgelope 23 jaar saam gewoon het.

“Ons is deur die mense van die woonwapark ingelig dat ons nou met brandbestande materiale moet herbou. Dis ontsettend duur, en al is ons baie dankbaar vir al die skenkings wat klere en kos ingesluit het, benodig ons boumateriaal om te herbou. Dit moet egter nie gewone hout wees nie – dit moet brand-bestand wees. Ons vra nie vir geld nie – ons vra net vir die materiale om te kan herbou,” voeg hy by. . Indien jy of sakelui wat jy ken, die De Allendes met boumateriaal te hulp kan snel, kan jy Albert de Allende by 074 245 0085 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article