’n Dierereddingsorganisasie het ’n pleidooi uitgestuur aan die gemeenskap van Heldervue waarin hulle mense vra om nie diere te skiet nie.
Die pleidooi is uitgestuur nadat ’n diere-eienaar sy geliefde kat aan die dood afgestaan het nadat die dier glo deur iemand in die woonbuurt geskiet is.
Suzanne Mostert, ’n inspekteur van Glen Graze Animal Rescue Sanctuary, sê dit is ’n groot probleem, want sy kry gereeld oproepe waar bure dreig om diere te skiet. Onlangs is heelwat katte in die omgewing geskiet.
“Dit raak mense se sak en dit raak die kinders wat ’n dier aan die dood afstaan. ’n Gemeenskap word geoordeel aan hoe hulle hul diere behandel. My opinie is ons het baie om te leer,” vertel Mostert.
Volgens haar moes ’n gesin in Heldervue onlangs ’n groot trauma deurmaak nadat een van hul katte dood is en hul ander kat gewond is nadat die troeteldier glo twee keer met ’n windbuks geskiet is.
“Die gesin se een kat, genaamd Parrot, sterk tans by die huis aan nadat hy weggehardloop en eers op Maandag 20 Maart weer by die huis aangekom het,” verduidelik die inspekteur.
Die eienaar het bloed gesien en die kat veearts toe geneem.
“Die kat het twee wonde aan die lyf (aan weerskante van die lyf) gehad. Volgens die familie het die veearts gesê dit is moontlik pellets uit ’n windbuks,” sê Mostert.
Dieselfde gesin was die tweede keer nie so gelukkig nie toe hul ander kat, genaamd Winston, op ’n keer nie teruggekom het huis toe nie.
Die eienaar het die kat se oorskot op Sondag 30 April gekry.
“Volgens die eienaar het die kat op sy sy gelê en daar was ’n gat aan die kant van sy lyf omtrent die grootte van ’n R5-muntstuk.”
Die eienaar het kort ná die voorval na die gemeenskap van Heldervue en die omtrek uitgereik om na beeldmateriaal te kyk of hom in te lig indien hulle in die tydperk van Winston se verdwyning enige skote gehoor het.
In ’n ander voorval is ’n kat kort ná die Winston-voorval in dieselfde omgewing rondgeskop deur iemand wat glo sy buurman kort tevore gedreig het hy gaan sy kat skop, waarna hy wel die dier geskop het.
Iemand in die Heldervue-omgewing, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het bevestig drie verskillende katte, insluitend Winston, is die afgelope twee maande in die omgewing doodgeskiet.
“Ek het ’n woordewisseling met iemand gehad. Hy het bevestig dat hy enige rondloperkatte in die omgewing sal doodskiet,” sê die anonieme bron.
Mostert het genoem die organisasie neem hande met ander organisasies en ondersoek word ingestel om die skuldige wat die katte so skiet, op te spoor en in die daad te betrap en om hom/haar aan die owerhede oor te gee.
“As julle vermoed of weet diere word geskiet, meld dit by jou naaste dierewelsynorganisasie aan. Ons het al baie gevalle gesien waar die diere ’n stadige en wrede dood sterf nadat hulle geskiet is. Werk saam met ons om die mense vas te vat,” sluit Mostert af.



