Anjanka Olivier (20) word onthou as iemand met ’n groot lewenslus en wat altyd uit haar pad gegaan het om haar medemens te help.


’n Borrelende jongmens met ’n hart van goud en wat werklik vir haar medemens omgegee het, het onlangs die stryd teen ’n skaars soort kanker verloor.

Anjanka Olivier (20) het op Woensdag 17 Mei die tydige met die ewige verwissel. Sy het volgens haar pa, Stephan, vir amper ’n jaar ’n brawe stryd teen Ewing-sarkoom gestry.

“Dis ’n soort kanker in die sagte weefsel en dit word gewoonlik in kinders en jong mense onder die ouderdom van 19 gediagnoseer,” vertel Olivier.

Anjanka was op beide die Laerskool Hendrik Louw en die Hoërskool Strand die onderhoofleier.

“Sy het puik leierseienkappe gehad en was goed gebalanseerd. Sy het akademies en in sport soos hokkie en atletiek uitgeblink en was ook goed in ballet,” voeg haar pa by.

Anjanka, wat finansiële risikobestuur aan die Universiteit Stellenbosch geswot het, het verlede jaar van rugpyn begin kla, maar in Julie het die pyn erger geword.

“Ons was toe na ons huisdokter en ná so ’n paar ultra-sounds en CT-scans het ons uitgevind Anjanka het ’n gewas van sowat 15 cm in haar buik gehad. Die gewas is verwyder en die dokters het toe vasgestel sy het Ewing-sarkoom-kanker. Ná chemoterapie en bestraling is in Maart vasgestel die kanker het na haar lewer, pankreas en niere versprei,” sê Olivier.

’n Roudiens is verlede Woensdag (24 Mei) – presies ’n week ná haar dood – gehou en die Ou Apostoliese Kerk in Greystraat in Strand het uit sy nate gebars met nie plek vir ’n muis nie.

“By Anjanka se roudiens het almal iets moois te sê gehad. Haar een vriendin het vertel dat Anjanka altyd reg was om ander mense te help – maak nie saak waarmee sy besig was nie; sy het uitgereik na ander en haar hulp aangebied. Sy het so ’n aanvoeling gehad en was altyd gereed om haar medemens te help,” voeg hy by.

Olivier sê hy gaan sy enigste dogter se droë humorsin en stralende glimlag elke liewe dag mis.

“Anjanka sal by die Hoërskool Strand as ’n trotse Arend onthou word – iemand wat altyd bereid was om haar vlerke ver en wyd te sprei en hoog te vlieg. Ongelukkig was haar groot drome vir ’n blink toekoms op aarde nie vir haar beskore nie en het sy op hierdie jeugdige ouderdom na haar hemelse Vader verhuis,” lui ’n huldeblyk oor Anjanka, wat op die Hoërskool Strand se Facebook-blad gedeel is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article