Almal is dit eens, sterre skitter die helderste in die teater.
Talent het vanjaar die Nasionale Toneelspelkompetisie, wat van Maandag 22 tot Woensdag 24 Mei by die Playhouse-teater in Somerset-Wes aangebied is, vir hoërskoolleerders gekenmerk.
Aksana Matokazi van The Stage Performing Arts Studio het met die louere as wenner van die gesogte kompetisie weggestap. Aksana het ook die pryse vir die beste monoloog en beste improvisasie ontvang.
Die naaswenner was Somari Ryan van die Hoërskool Noordheuwel in Gauteng terwyl Francois Retief van die Hoërskool Parel Vallei (PV) in Somerset-Wes derde was. Die Kieran Schultz-prys vir die beste junior is deur William le Roux, ook van PV, gewen.
Honderde jong akteurs van reg oor Suid-Afrika en Namibië het hulle vir die kompetisie ingeskryf, wat ook deur die ATKV, die Afrikaanse Onderwysnetwerk, The Performing Arts Lifestyle Institute en Radio Tygerberg ondersteun is.
Die 55 finaliste is deur ’n paneel beoordelaars gekies om aan die finale drie strawwe uitdunrondes op die Helderberg-verhoog deel te neem.
Die uitdunne het die uitvoering van ’n monoloog, improvisasie, prosa en gedig ingesluit. Die 20 beste kandidate is ná die eerste ronde aangewys en die top-agt is ná ’n tweede ronde gekies.
Die top-20 in die multimedia-ronde het ’n teks-voordrag by Radio Tygerberg gelewer en ook ’n TV-skermtoets afgelê.
Die top-agt is daarna aangewys om by die gala-aand op te tree, wat verlede Woensdagaand (24 Mei) by die Playhouse-teater op die planke was.
Die pryswenners is aan die einde van die spoggeleentheid deur Wickus Zerwick, die organiseerder van die kompetisie, aangekondig.
Die Hoërskool Bellville reël die kompetisie al 21 jaar lank en het vanjaar met die Hoërskool Parel Vallei hande gevat. Sodoende is ’n ongelooflike platform, waar drama-leerders se talent raakgesien en ontgin word, geskep.
Die ander pryswenners is:
- Prys vir die wenner se onderwyser/afrigter: Siobhan Taljaard en Yolandé Rabé.
- Mees belowende kandidaat: Blyde Schoeman van Helpmekaar Kollege.
- Multimedia-optrede: Darren Cloete van die Hoërskool Jan van Riebeeck.
- Beste Prosa: Rico Immelman van die Hoërskool Noordheuwel.
- Beste Gedig: Somari Ryan van die Hoërskool Noordheuwel.
- Aanmoedigingspryse toegeken deur die Skadu-paneel:
– Ronde 1: Khian van der Boon van die Hoërskool Bellville
– Ronde 2: Blyde Schoeman van Helpmekaar Kollege in Gauteng.



