Altesaam 11 maatskaplike werkers van oor die land heen is gedurende Maatskaplikewerkdag as die Hoopdraers van 2023 aangewys.
Op Dinsdag 21 Maart is Internasionale Maatskaplikewerkdag gevier en daarom het Solidariteit Helpende Hand in samewerking met Solidariteit se Beroepsnetwerke besluit om hulde aan hierdie onbaatsugtige professie te bring.
Vanjaar was dit die tweede jaar wat hierdie toekennings oorhandig is en die doel is om openbare erkenning te gee aan maatskaplike werkers se onblusbare passie vir hul werk ondanks moeilike omstandighede.
Volgens Christia Potgieter, hoof van die Maatskaplikewerkdienste-afdeling by Solidariteit Helpende Hand, word maatskaplike werkers daagliks blootgestel aan die harde werklikheid van mishandeling, verwaarlosing en ander vorme van onreg wat aan die orde van die dag is. Hulle deins egter nie daarvoor terug nie en veg in die voorste linies vir weerlose groepe. Dit is dus belangrik dat hulle daarvoor vereer sal word. Maatskaplike werkers van oor die land heen is met ’n toekenning vereer. Die publiek kon ’n maatskaplike werker in hul gemeenskap vir die toekenning nomineer en ’n professionele paneel het die nominasies beoordeel.
“Om ’n maatskaplike werker te wees, verg baie meer as om ’n paar take gedurende kantoorure te verrig. Maatskaplike werkers speel ’n noodsaaklike rol om gesonde gemeenskappe te bou en hierdie dikwels ondankbare beroep is daarop gerig om mense in nood te ondersteun, weerloses te beveilig en te veg teen maatskaplike ongeregtighede. Dapper, toegewyd, empaties, roepingsgedrewe, steunpilaar, waagmoed, deursettingsvermoë – dit is maar enkele woorde wat die beroep omskryf, maar dikwels gaan die impak wat hierdie edel beroep op individue, gesinne en gemeenskappe het, ongesiens verby,” sê Potgieter.
Bianca Smit van Solidariteit se Beroepsnetwerke het gesê met hierdie toekenning wil hulle maatskaplike werkers salueer en erkenning gee omdat hulle ’n stem is vir diegene wat nie vir hulself kan praat nie. “Hulle bring hoop waar ellendige toestande heers. Maatskaplike werkers is die lig in iemand se donker. Hulle is nie net ligdraers in die gemeenskap nie, maar ware hoopdraers in die gemeenskap. Baie geluk aan die Hoopdraers vir 2023,” sê Smit.
In die Wes-Kaap, is dr Shanie Boshoff aangewys as die Hoopdraer vir 2023. Sy was voorheen die uitvoerende hoof van die ACVV en is tans eienaar van GroPotential wat in die Helderberg bedryf word. As deel van haar werk, fasiliteer sy individue en ondernemings in die Kom om hul potensiaal te verhoog en het al verskeie werksessies in die Helderberg aangebied. Sy tree by baie Spoednetwerke van Helpende Hand op as kundige op die gebied van netwerkbou en potensiaal ontgin. Sy tree weer as gasspreker op by ’n Spoednetwerk wat op Donderdag 22 Junie in Hermanus plaasvind.


