Die Broadlandspark-gemeenskapsaal kort baie opknappingswerk, maar die gemeenskap en ondernemings moet hul harte en hande daarvoor oopmaak. Foto: Rick Marais


’n Gemeenskapsaal in Broadlandspark, wat stukkie vir stukkie weggedra word, het onlangs ’n bietjie goeie nuus ontvang met blink planne wat vir die gebou voorlê. Maar, voordat dit kan gebeur, moet die gemeenskap en plaaslike sakeondernemings hul harte en hande oopmaak.

Die gemeenskap van Broadlandspark het verlede maand (Mei) die goeie nuus ontvang dat hul gemeenskapsaal opknappingswerk sal ondergaan. Dit volg nadat ’n huurkontrak opgestel is tussen die huidige kontrakhouers, die ACVV Bright Lights, en die Future Kids Educare Centre (“New home for Future Kids Educare,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 24 Mei).

Raymond Meyer, die voorsitter van ACVV Bright Lights, het bevestig dat ’n ooreenkoms tussen ACVV Bright Lights en Future Kids Educare Centre onderteken is en hulle sal toelaat om die saal vir die volgende drie jaar te gebruik.

Die gemeenskapsaal, wat tans in ’n droewige toestand is, benodig egter baie werk, en soos Tyrone September, die hoof van Future Kids, dit stel, benodig hulle die hulp van die gemeenskap daarvoor.

“Ons vra lesers om ons te help. Ons benodig boumateriaal, verf en geld sowel as iemand wat die herstelwerk kan doen,” sê September.

Die sentrum het ’n lang lys van benodigdhede, waaronder vensters en deure asook kunsmatige gras en ’n kombuis-opwasbak waarmee weldoeners kan help. Die Future Kids-sentrum het groot belangstelling in die gemeenskapsaal, want hulle werk uit ’n beknopte huis in Petuniarylaan, en die “nuwe” ligging sal hulle die ruimte gee om verder te groei en uit te brei.

  • Indien jy kan help, of weet van ’n onderneming wat Future Kids kan help, om hul droom te bewaarheid deur enige van die bogenoemde items of geld te skenk, kan Tyrone September by 063 599 0958 gekontak word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article