Die 41-jarige verdagte wat in verband met een van die Macassar-gruvondste in hegtenis geneem is, het verlede Donderdag (15 Junie) in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn.
Die verdagte se hofverskyning volg nadat hy verlede Maandag (12 Junie) in verband met die vermeende moord van ’n vrou wie se lyk Saterdagoggend 27 Mei by Macassar-strand aangetref is, in hegtenis geneem is.
Die vrou, wat later uitgeken is as die 25-jarige Sharaleen Isaks van Delft, se lewelose liggaam is een van vier wat binne ’n week in Macassar ontdek is (“Vierde lyk binne week in Macassar aangetref,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 7 Junie).
Die koerant het vroeër berig dat die polisie Saterdag omstreeks 07:00 deur ’n visserman wat die liggaam van Isaks op die water sien dryf het, na die toneel by die strand ontbied is.
Die lyk van die halfnaakte vrou is deur owerhede uit die water gehaal. Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen en ’n beroep op die breë gemeenskap gedoen vir inligting om die vrou te identifiseer asook nog drie lyke wat binne die bestek van dae in die gemeenskap gevind is.
Die lyk van ’n onbekende man wat vermoedelik die slagoffer van moord was, is Sondagmiddag 28 Mei in ’n beboste gebied naby die rioolaanleg in Macassar-weg gevind. Die vermeende moordslagoffer wat met gesigwonde aangetref is, is later as die 29-jarige Tyran Nicholas Anthony van Strand geïdentifiseer.
Donderdagmiddag 1 Junie is nog ’n lyk, ook dié van ’n man, in Macassar-weg, waar dit glo in ’n plas water gelê het, ontdek.
Die lyk van ’n man wat vermoedelik tussen 28 en 32 jaar oud is en deur voetgangers ontdek is, is steeds onbekend.
In die mees onlangse voorval op Saterdag 3 Junie is ’n vierde lyk in die beboste gebied in Macassar-weg aangetref – ongeveer ’n kilometer van waar Donderdag se lyk gevind is.
Die lyk wat omstreeks 17:30 deur verbygangers in die beboste gebied gevind is, is as die 40-jarige Zuko Njali van Khayelitsha uitgeken.
Volgens die polisiewoordvoerder wil dit voorkom asof die oorledene weens natuurlike oorsaak beswyk het.
Nadat Isaks se liggaam aangetref is, het die Macasssar-polisie aanvanklik ’n geregtelike doodsondersoek geopen, maar die saak het ’n nuwe wending geneem toe die nadoodse ondersoek moord bevestig het.
Volgens ’n persverklaring wat verlede Dinsdagmiddag (13 Junie) – ná die koerant se spertyd – deur die provinsiale polisie se mediakantoor uitgereik is, het die lykskouing ook aan die lig gebring dat die slagoffer verkrag, uiteindelik vermoor en op die strand gestort is.
“Deur die aanbieding van voldoende bewyse het die ondersoekspan ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van die verdagte by die Bellville-landdroshof bekom.
“Gewapen met hierdie lasbrief vir inhegtenisneming het die ondersoekspan op die woning van die 41-jarige verdagte toegeslaan waar hy Maandag (12 Junie) aangekeer is,” lui die persverklaring.
Die verdagte het sy eerste verskyning verlede Donderdag in die Somerset-Wes-landdroshof gemaak. Die saak is uitgestel tot vandag (21 Junie) vir ’n borgtogaansoek.
Die waarnemende provinsiale kommissaris van die Wes-Kaap, genl.maj. Bongani Maqashalala, het die ondersoekspan geprys vir die noukeurige ondersoekwerk wat gedoen is.
“Hierdie deurbraak sal ook ’n soort vertroosting en afsluiting bring vir die bedroefde familie en geliefdes van die oorledenes,” het hy bygevoeg.
Genl.maj.Maqashalala het herhaal dat verhoogde hoëdigtheidspatrollies in die Macassar-polisiëringsgebied gehandhaaf sal word waar altesaam vier lyke onlangs ontdek is. Gespesialiseerde speurders van die provinsiale speurders is aangewys om die plaaslike speurtak te help om die voorvalle te ondersoek.. In ’n afsonderlike voorval is ’n lyk van ’n onbekende man verlede Maandag (12 Junie) in Onverwacht-weg ontdek.
Volgens die Lwandle-polisie het beamptes op ’n klagte gereageer en die lyk met veelvuldige steekwonde aangetref. Die oorledene is in slegs ’n blou denimbroek gevind.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting om die ondersoekbeampte, speurkapt. Dhanabalan Pillay, by 079 894 0119 te bel of die Lwandle-polisiekantoor by 021 845 2060 te skakel.


