“Ons is bly dat die gereg sy gang gegaan het en ons nie gefaal het nie. Nóú kan ons familie se genesingsproses begin.”
Dit is die woorde van Michelle Raubenheimer nadat die mans wat tereg gestaan het weens die moord op haar geliefde seun eindelik vandeesweek in die Somerset-Wes-streekhof vir die misdaad gevonnis is.
Ruben Raubenheimer, ’n 25-jarige pa van Somerset-Wes, is op 6 Desember 2020 in ’n noodlottige messteekvoorval geëis (“Sportmal pa se lewe kortgeknip,” DistriksPos, 10 Desember 2020).
Die oorledene was ’n naasbestaande van die vermoorde Nicole Raubenheimer, een van twee jongelinge wie se lyke in 2016 op ’n byna identiese manier gevind is. DistriksPos het destyds berig dat die lewelose liggame van Nicole en Christopher Tromp, albei 20, ’n dag uitmekaar en met verskeie steekwonde en ’n plastieksak oor die kop, aangetref is. Tromp, ’n inwoner van Firgrove, is op 18 Augustus 2016 in ’n vlak graf in ’n beboste omgewing oorkant die vulstasie naby Firlands gevind nadat hy daardie Maandag (15 Augustus) as vermis aangemeld is. Die dag voordat Tromp se lyk gevind is, het Nicole se ma haar lyk in haar slaapkamer in hul huis in Victoria Park aangetref.
Die dubbelmoordenaars, Bradlee Richter en Fabio Diedericks, is byna ’n jaar ná hul inhegtenisneming gevonnis en tronkstraf opgelê.
In Raubenheimer se geval het hy glo saam met twee jong vroue op die hoek van Poplar- en Rosestraat in Garden Village gestaan en gesels toe hulle na bewering deur die moordbeskuldigdes, Gerswin Basson en Mondre Fredericks, genader is. ’n Stryery het glo tussen die mans ontstaan, waarna een ’n mes uitgepluk en Raubenheimer twee keer in die bors gesteek het.
Die groep het na bewering in verskeie rigtings gevlug. Die oorledene het aan sy beserings beswyk kort nadat hy by ’n woonperseel in Poplarstraat ingehardloop het. Vinnige optrede van die polisie het tot die inhegtenisneming van die beskuldigdes gelei.
’n Groot skare van Raubenheimer se naasbestaandes en vriende het byna elke keer tot en met die beskuldigdes se borgtogverhoor met plakkate na die hof in Caledonstraat opgeruk in teenstand teen borgtog vir die moordverdagtes, wat toe vir die duur van die hofverhoor agter tralies gebly het.
Basson (36) van Garden Village en Fredericks (20) van Rusthof, Strand, is Maandag (19 Junie) lewenslange tronkstraf opgelê.
Raubenheimer se bedroefde ma het in die lig van die vonnisoplegging hul tevredenheid oor die lewenslange tronkstraf wat die beskuldigdes opgelê is, uitgespreek. “Dit bring nie my kind terug nie. Die verlange is nog baie groot en die seer weens sy wrede dood steeds rou. Maar, die gewigtige vonnis bied bietjie vertroosting,” het sy bygevoeg.
Benewens sy ouers word Raubenheimer ook oorleef deur sy sesjarige seuntjie wat, volgens sy ma Ahescha Anthony, baie persoonlikheidseienskappe van sy pa deel. Sy spog dat een van hierdie karaktereienskappe sy spontane gees en sin vir humor is. “Nes Ruben se ma Maandag (19 Junie) in die hof meegedeel het, word ek nes sy ook skool toe ontbied – nie omdat Rylan stout is nie, maar omdat hy nes sy grapjas-pa lief is om clown te speel,” het sy in ’n ligte luim meegedeel. “Om hom in Rylan te sien, is kosbaar en ’n riem onder die hart.”
Vir Anthony is die reis tot genesing ook ’n uitdaging wat sy nes Raubenheimer se familie dag vir dag aanpak.
Raubenheimer, wat as ’n landmeter-assistent gewerk het, was ook baie aktief en passievol oor verskeie sportsoorte waarin hy uitgeblink het.



