’n Konstabel van ’n plaaslike polisiekantoor wat verlede jaar in hegtenis geneem is op aanklagte van moord en ontvoering, is glo volgens gerugte een van vele polisiebeamptes in die Wes-Kaap wat deel van ’n ontvoering-sindikaat is.
Macassar se Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het sy misnoeë in Januarie uitgespreek nadat ’n polisieman van die plaaslike polisiekantoor op Donderdag 29 Desember 2022 in hegtenis geneem is weens sy vermeende betrokkenheid by ’n ontvoering en moord in Khayelitsha (“Konstabel vas vir moord,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 18 Januarie 2023).
Adjudant-offisier Desire Adendolf, ’n woordvoerder van die Macassar-polisie, het vroeër vanjaar bevestig die 32-jarige konstabel van die Macassar-polisiekantoor, wat sewe jaar diens in die polisie het, is een van drie verdagtes wat in hegtenis geneem is.
’n Gesamentlike optrede deur die polisie se provinsiale taakspan vir ontvoering, die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke) asook ’n gyselaar-onderhandelingspan, het daartoe gelei dat die drie verdagtes van onderskeidelik 30, 32 en 37 jaar in verband met die dood van ’n 48-jarige-man, wie se lyk Maandag 26 Desember in Khayelitsha ontdek is, in hegtenis geneem is. Die vonds is nou deel van ’n ontvoering-en-afdreiging-saak.
DistriksPos & Helderberg Gazette kon nie in Januarie die naam van die konstabel vasstel nie, maar luitenant-kolonel Siyabulela Vukubi, ’n woordvoerder van die Valke, het bevestig dit was konstabel Aphiwe Mondi van die Macassar-polisie wat in hegtenis geneem is.
“Die saak is sub judice, wat beteken ek kan nie verder oor die saak of bewerings uitbrei nie,” sê Vukubi.
Mondi het onderskeidelik op Dinsdag 3 en 10 Januarie asook op 7 Februarie in die Wynberg-landdroshof in verband met die moordsaak verskyn.
“Die saak is tot Maandag 17 Julie uitgestel wanneer Mondi vir sy borgtogaansoek verskyn,” sê Vukubi.


