’n Familie van die Strand is geskok gelaat nadat hul huis omgekeer is, iemand in die huis beseer is en ’n hond met ’n rubberkoeël raakgeskiet is.
Belinda Beukes en haar familie wat woon in Petuniastraat in Broadlandspark is Sondagoggend (23 Julie) net so voor 09:00 besoek deur die polisie se teenbende-eenheid wat beweer het daar is dwelms in hul woning.
Beukes is hoogs ontsteld omdat die polisie se teenbende-eenheid onvanpas opgetree het en haar eiendom asook haar geliefdes se lewe in gevaar gestel is deur hul optrede.
“Toe ek hier aankom, is die hele toneel afgesper en almal het buite gestaan en ek het geweet hier het iets by my huis gebeur. Ek het verby polisiebeamptes gery en langs hulle gestop en gevra of hulle by my huis was. Hulle het dit toe ontken,” sê Beukes.
Toe Beukes aankom by haar huis het ’n hele ander storie afgespeel en volgens haar is haar 34-jarige-skoonseun beseer tydens die polisie se klopjag en hy moes die hospitaal besoek na die tyd omdat hy oral oor sy lyf glo deur polisiebeamptes geskop en geslaan is.
’n Familielid het vir privaatheid gevra en versoek dat die skoonseun se naam nie in die berig genoem word nie.
Beukes het vertel omtrent vyf polisiebeamptes het haar skoonseun beetgekry en geslaan.
“Toe die polisiebeamptes hier aankom het hulle heel eerste ons huis se kringtelevisiekameras gaan afsit voordat hul die operasie begin het,” vertel ’n ontevrede Beukes.
Die polisie het glo kom soek vir Beukes se seun Dalton, en toe hulle hom nie dadelik kon kry nie, toe keer hulle die res van die huis om op soek na die dwelms. “Hulle het ’n sakkie dagga in my skoonseun se kamer geplant, want dit wat hulle daar gekry het behoort nie aan hom nie. Ná die klopjag het hulle my skoonseun se boeie afgehaal en genoem dat hulle nie gelukkig is nie en hy was vry om te gaan,” voeg Beukes by.
Dalton is toe tydens die klopjag in hegtenis geneem maar later die aand was hy vry om te gaan.
Sy beweer ook dat daar in totaal sowat R2 500 kontant asook ’n selfoon vermis is ná die voorval.
“Ons is baie ontevrede oor hoe dinge hanteer is en dis waarom ons ’n saak gaan oopmaak het by die polisie om te kla hieroor,” voeg sy by. ’n Dertienjarige seun wat by Beukes woon, het die hele insident sien afspeel en hy moes nog Maandagoggend sy weergawe van die voorval vertel aan die polisie.
Kaptein FC van Wyk, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, sê aantygings van polisie-brutaliteit word nie ligtelik opgeneem nie. “Die klaagster is aangemoedig om ’n saak te loods met die polisie se bestuur of by die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) sodat die geldigheid van die eis getoets kan word. Ná die ondersoek afgehandel is, sal die kantoor in ’n beter posisie wees om kommentaar te lewer rakende die aantygings wat gemaak word,” verduidelik Van Wyk.



