Enkele ure voor die reën-wolke sou losbars staan Janine Engelbrecht (in die middel) met haar niggie en kinders wat nou sonder ’n heenkome gelaat is. Foto’s: Rick Marais


’n Familie van ses het verlede Woensdag (19 Julie) die skok van hul lewe gekry toe die balju hulle uit hul woning kom sit met al hul besittings op die sypaadjie voor hul huis uitgepak.

Matrasse en beddens, twee yskaste, so paar meubels en heelwat swart sakke het buite voor die huis in Bermuda-straat in Macassar gestaan, terwyl twee wagte die voordeur se slot vervang het en wag gestaan het voor die huis se ingang.

Janine Engelbrecht wat in die huis woon saam haar kinders en haar pa, is nou sonder ’n heenkome gelaat en moes intrek by nabye familie.

Sy vertel die oggend nadat die kinders by die skool afgelaai is, was daar ’n klop aan die deur en toe hulle dit oopmaak was dit mense van die balju wat met ’n uitsettingsbevel opgedaag het.

“Hulle het eers nadat hulle als uitgedra het, vir my die brief gegee. Hulle het glad nie verduidelik waaroor als gegaan het nie,” sê Engelbrecht.

Volgens haar was die wagte wat deur die balju aangestel is effens bot en aggressief toe hul “inbars” en die gesin se meubels begin verwyder het.

Engelbrecht, wat al saam met haar pa vir die afgelope 10 jaar in die huis woon, het bevestig haar pa is sedert 2017 in ’n hofgeding oor die huis betrokke.

“In 2017 is ons goeters ook uitgedra, maar ons het dit weer ingedra. Daar het toe ’n hofsaak plaasgevind en ons het dit verloor. Laasjaar was ons weer betrokke in ’n hofsaak en die keer het ons die saak gewen. My pa moes laasjaar die hofdokumente gaan haal, maar hy het dit toe nooit gaan haal nie. Dit was tjoepstil ná die hofsaak. Ewe skielik, op 19 Julie, toe bars alle hel los en ons word uitgesit op die straat,” vertel sy.

Volgens Rhoda-Ann Bazier, ’n gemeenskapsaktivis vanuit die omgewing, is die geding tussen Jan Koras (Engelbrecht se pa) en sy vorige werkgewer, ’n boer aan wie die huis behoort.

In 2014 is Koras by die boer afgedank na hy glo wyn gesteel het, iets wat hy sterk ontken.

“Die feit dat hulle mense in die reën kom uitsit, is heeltemal onaanvaarbaar. Volgens die Esta-wetgewing as ’n werknemer langer as ’n sekere tydperk vir ’n boer gewerk het dan moet daar alternatiewe verblyf in plek gesit word vir die werknemer. Destyds toe Jan en sy gesin gedreig is met ’n uitsetting, is daar ’n hofsaak geopen en laasweek Woensdag toe daag die balju op en kom verwyder vir Koras-hulle. Ek dink die uitsetting kon met meer menslikheid plaasgevind het,” voeg Bazier by.

Daar het drie hofsake plaasgevind by Somerset-Wes-landdroshof wat van toepassing is op die uitsetting van Koras en sy gesin. Die eerste een op 18 Oktober 2017 was ’n lasbrief vir uitsetting, die tweede een ’n uitsettingsbevel. Dis egter die derde hofsaak wat plaasgevind het verlede jaar op 29 November en by dié hofsaak is ’n uitsettings-lasbrief van 2017 weer uitgereik en die uitsetting van Koras en sy familie is hierin aangedui en goedgekeur.

’n Prokureur wat vir Koras inligting oor die saak verskaf het, noem die kanse is nul dat hulle ooit weer terug sal kan trek in die huis. Die prokureur het verder verduidelik die bevel is geteken deur ’n magistraat en niks kan nou deur die familie gedoen word nie, juis omdat ’n balju aangestel is en die uitsetting uitgevoer is.

Koras het bevestig hy en sy gesin sal vir die volgende rukkie by familie en vriende onderskeidelik gaan woon totdat hul weer terug op hul voete kan kom.

Wagte wie deur die hof aangestel is staan wag buite Jan Koras en sy familie se woning terwyl al hul besittings buite op straat lê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article