Strand-polisie het vandeesweek gerugte van ‘n vermeende boendoehof ontken en die voorval bevestig as ‘n motorongeluk wat Saterdag 5 Augustus in die Rusthof-woonbuurt afgespeel het. 

Die gerugte volg glo nadat beeldmateriaal wat kort na die ongeluk geneem is wyd en syd op sosiale media gedeel is. In die video wat aan DistriksPos & Helderberg Gazette verskaf is, lê ’n bebloede man op die grond. Enkele meters van hom lê nog ’n persoon – vermoedelik ’n vrou – ook op die grond, met bloed aan haar gesig.

Daar is toe glo beweer dat die paartjie na bewering die slagoffers van boendoegeweld was.

Maar by navraag het ‘n Strand-polisiewoordvoerder dié bewerings weerlê en verduidelik dat die bestuurder van ’n voertuig omstreeks 22:00 verkeerd in Webbstraat afgedraai het en deur die muur van ’n eiendom gebars het.

“Dit was nie ’n ‘boendoehof’-voorval nie. Dit was ’n ongeluk. Die man wat in die video-opname daar lê, was in ’n voertuig wat verkeerd afgedraai, deur ’n buitemuur gery en amper binne inwoners se huis beland het. Die insittendes was van Lwandle en hulle het nie die strate geken nie en verkeerd afgedraai, waarna die ongeluk gebeur het,” het die polisiewoordvoerder gesê.

Omstanders het glo die insittendes op die ongelukstoneel uit die voertuig gehelp; nie aangeval soos beweer word nie.

Omstanders het wel teenoor die polisie uitgevaar. ‘n Ontstoke skare het polisievoertuie met klippe bestook en beamptes van die toneel af weggejaag. 

“Die mense was egter so erg opstandig dat ons beamptes nie toegang tot die toneel kon kry nie. Ons kon nie eens verklarings daar afneem nie. Die beamptes is met klippe bestook en die toneel is nie korrek aangeteken soos dit moes nie,” het die polisiewoordvoerder bygevoeg.

Die Strand-polisie het bevestig die ongeluk is ná die voorval by die polisiekantoor aangemeld.

Jannie Frieslaar, die voorsitter van die Strand- gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het die gemeenskappe van Sektor 2 gevra om die polisie toe te laat om hul werk te doen. “Ons doen ’n beroep op alle inwoners van Sektor 2, wat Webb- en Liberty-straat insluit, om saam met die polisie te werk en nie polisievoertuie met klippe te bestook nie. Ons moet almal saamwerk en verdraagsaam wees en wetstoepassers met die nodige respek en waardigheid behandel,” het hy afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article