’n Ma wonder wat met haar gewese man en die pa van haar dogter gebeur het nadat hy nege jaar gelede spoorloos verdwyn het.
Mary Booysen, wat destyds tydens Peter Revell se verdwyning in Somerset-Wes gewoon het, wonder steeds wat met hom gebeur het. Hulle worstel veral met onbeantwoorde vrae aangesien hulle verlede Donderdag (10 Augustus) sy 54ste verjaardag sou gevier het.
“Dit was in Oktober of November 2013 dat ek en my dogter Peter die laaste keer gesien het. Ek het hom by die buitenste hek ’n drukkie gegee en nooit weer van hom gehoor of hom weer gesien nie,” onthou Booysen.
Sy en Peter is in 2000 getroud en haar dogter, wat tans 18 is, is uit die huwelik gebore. Hul huwelik het in 2009 op die rotse beland en hulle is geskei, maar omdat hul kind minderjarig was, het dit die hof twee jaar geneem om hul skeisaak af te handel en hulle is eers in 2011 amptelik geskei.
Mary het tydens die skeisaak vir ’n rukkie na Calvinia in die Noord-Kaap verhuis, en sy en haar dogter het by haar ma gaan woon.
“Gedurende die tyd het Peter en my dogter nie baie kontak gehad nie. Hy was baie bly toe hy hoor dat ek en my dogter in Desember 2012 weer na Somerset-Wes teruggetrek het,” sê Booysen.
Sy het besluit sy wil graag hê haar dogter en haar pa moet ’n beter verhouding ontwikkel en sy was bly toe Peter Vrydae, Saterdae en Sondae by hul dogter kom kuier het.
“Dit was so ’n goeie tyd. Peter was meer betrokke. Hy was regtig daar vir ons dogter. Hy het byvoorbeeld tydens ’n groot storm – waarin die hospitaal waar ek destyds gewerk het, oorspoel het – vir ons dogter by die huis gaan wag, want hy het geweet sy is bang vir die donderweer. Ek het destyds naby aan Somerset-Wes Primêre Skool gewoon en my dogter het elke dag ná skool oorgestap na ons woonstel toe en dit oopgesluit en by die huis vir my gewag totdat ek van die werk af kom. Sy was baie verantwoordelik.
“Dit was toe Peter eendag net weggeraak het, want die laaste keer dat iemand hom in lewende lywe gesien het, was toe hy sy vriend op 20 Desember 2013 help trek het.
“Hy het stil geraak, maar ek het gedink dit is Kersfees en dalk is hy by sy vriende of familie of so iets. Ek het niks snaaks gedink daarvan nie. Maar in Januarie 2014 het ek en my skoonfamilie vermoed iets het met hom gebeur, want ons het toe nog niks van hom gehoor nie.”
Tydens hierdie tyd het Booysen se skoonma en skoonsuster haar ingelig dat hulle Peter se biologiese ma opgespoor het.
“Toe Peter net drie weke oud was, het sy biologiese ma, wat op daardie tydstip net 14 jaar oud was, Peter vir sy aanneem-ma (my skoonma) gegee, wat Peter soos een van haar eie kinders grootgemaak het. Sy het agt kinders gehad – ses dogters en twee seuns – van wie Peter een was.”
Peter se biologiese ma, wat lank in Johannesburg gewoon het, het afgetrek Strand toe en het toe met sy aanneem-ma in verbinding getree.
“Dit was vreemd, want ek het my ‘nuwe’ skoonma saam met my skoonsus en skoonma gaan ontmoet. Dit was asof my skoonma my aan Peter se biologiese ma ‘oorhandig’ het, want drie maande daarna is my skoonma en skoonsus van Helderberg op pad na Sekunda toe in ’n botsing oorlede. Peter se biologiese ma was baie trots om haar kleindogter te ontmoet, maar die hartseer het ons weer getref en sy is drie jaar later aan kolonkanker oorlede.”
Booysen onthou almal het op haar skoonma en skoonsuster – Peter se aangenome ma – se begrafnis gehuil en baie mense het gehuil omdat Peter nie daar was nie.
“Ek het iewers in my diepste binneste gewens dat Peter, waar ook al hy was, van hul dood sou hoor en dalk by hul begrafnis sou opdaag, maar nee; dit het nooit gebeur nie.”
Booysen, wat tans oorsee woon, het ’n private speurder genaamd Johan Beukes aangestel om na Peter te help soek.
Beukes het op ’n navraag van DistriksPos & Helderberg Gazette bevestig geen beweging of aktiwiteit by die kredietburo is sedert 2013 vir Peter se rekening of sy identiteitsnommer bespeur nie.
“My dogter het in gimnastiek uitgeblink, en dit sou so lekker wees om Peter saam met my daar te kon hê. Ons lewe nou met al daardie vrae en wonder oor wat met Peter gebeur het,” voeg sy by.
Indien jy of enigiemand wat jy ken inligting oor Peter Revell se verdwyning het, kan Johan Beukes by 083 351 8491 gekontak word.



